Verdagtes vrygelaat ná De Wildt-plaasaanval

Callie van der Merwe vertel van sy ouers se aanval. Foto: Mariska Batt / AfriForum

Callie van der Merwe vertel van sy ouers se aanval. Foto: Mariska Batt / AfriForum

Hannes en Annetjie van der Merwe, die egpaar van De Wildt in Noordwes wat twee weke gelede op hul plaas aangeval en gemartel is, se kinders vrees vir hul ouers se veiligheid nadat drie verdagtes vrygelaat is.

Maroela Media het ná die aanval berig ʼn erg beseerde Hannes (77) moes ʼn kilometer ver na sy bure strompel om hulp te ontbied nadat hy tydens die plaasaanval deur drie verdagtes met ʼn byl aangerand en met ʼn strykyster op sy bene gebrand is. Annatjie (74) is ook tydens die aanval aangerand. Die aanvallers het van die toneel gevlug met vuurwapens, ammunisie en kontant.

Die egpaar is ná die aanval na die Mediclinic Brits en is drie dae later ontslaan.

Callie van der Merwe, die egpaar se seun, het vandeesweek aan Maroela Media gesê toe hy sy pa ná die aanval sien, het die bloederige velle van sy bene afgehang soos hulle hom gebrand het. “My ma het gebloei en haar gesig en heup was swart geslaan,” het hy gesê.

Van der Merwe het gesê die buurtwag het die Saterdag ná die aanval drie verdagtes in die omgewing opgemerk en in hegtenis geneem nadat hulle glo onder meer oor hul kleredrag uitgeken is.

Die Van der Merwe-egpaar is die volgende Maandag na die Klipgat-polisiestasie geneem om die vermeende aanvallers uit te ken. Van der Merwe het gesê albei sy ouers het afsonderlik al drie verdagtes uit ʼn groep van 15 positief uitgeken.

Die drie moes op 27 Januarie in die Brits-landdroshof verskyn, maar die saak het nooit voorgekom nie, aangesien die senior aanklaer die saak nie op die hofrol geplaas het nie. Daar was glo nie genoegsame bewyse nie, en die polisie se dossier was onvolledig. Die mans is daarna vrygelaat.

Brig. Thulani Ngubane, polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die drie verdagtes kon glo nie met vingerafdrukke met die voorval verbind word nie. Inwoners het glo ook foto’s van die drie verdagtes geneem en aan die Van der Merwe-egpaar gewys wat die uitkenningsparade kon belemmer het.

Die ondersoek duur egter nog voort en sodra nuwe inligting bekom is, sal die dossier weer na die senior aanklaer geneem word vir ’n beslissing.

Van der Merwe het gesê sy ouers het berading ontvang en dit gaan nou fisies en emosioneel beter met hulle. “My pa sukkel egter nog met die brandwonde aan sy been,” het hy gesê.

Hy het gesê sy ouers was verlig om te weet dat die skuldiges gevang is en dit was ʼn groot skok toe hul van die vrylating te hore gekom het. Veiligheidsverstellings is by die plaas aangebring en die buurtwag, gemeenskap en hul kinders is gereeld met die egpaar in verbinding.

Lorraine Claasen, kriminoloog en navorser by AfriForum het gesê die strafregstelsel het die slagoffers in die steek gelaat. “Die feit dat die dossier onvolledig was en die saak nie op die hofrol aangebring is nie, is onaanvaarbaar,” het sy gesê. “Dit hou vele gevolge vir die slagoffers in. Nie net verloor die slagoffers en hul familie vertroue in die strafregstelsel, wat in die belang van die slagoffers moet optree nie, maar hul word ook blootgestel aan sekondêre viktimisering.”

Claasen het gesê onnodige bykomende stres word nou op die egpaar geplaas wat nog steeds besig is om die misdaad en die gepaardgaande hoë vlakke van geweld te verwerk. “Hulle word uiteindelik ook verder getraumatiseer deur onbevoegdheid van owerhede wat misdadigers vrylaat. Dit is nie regverdig nie en kan nie geduld word nie.”

AfriForum is tans besig met ʼn ondersoek om te bepaal of daar enige onreëlmatighede in die vrylating van drie verdagtes was.

Volgens Nantes Kelder, hoof van die ondersoekeenheid by AfriForum, sal die saak verder gevoer word sodra meer inligting bekom word. Indien nodig sal AfriForum die egpaar met regshulp ondersteun.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Riaan Slabbert ·

Die buurtwag moes nooit die gemors aa die polisie oorhandig het nie, maar hulle sommer self lewendig begrawe het. Hulle is vrygelaat omdat hulle in opdrag opgetree het, en dus “onskuldig” is.

SNEL ·

Ek kan nie glo wat ek hier lees nie!!!!!! Ek sou bang gewees het om terug huis toe te gaan. Dis nou hoe ons onskuldige mense beskerm word, dis skandelik.

Schalk ·

Die hof moes hulle vrylaat. Hoe anders sal hulle kan voortgaan om te moor en martel. Natuurlik sou die ondersoek beampte sy kant bring deur n onvolledige dossier by die hof in te dien. So help hulle mekaar.

boer ·

Net nog n bewys dat die gemors van iewers instruksies kry on the martel en te moor.
Die klomp het lyk my n goeie job gedoen, en nou word hulle vry gelaat om aan te gaan.

Ons moeilikheid in SA is geboek, daar le nog baie slegte tye vir ons voor

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.