Verdediging bring aansoek in kleuterontvoering-saak

Die Port Elizabeth-landdroshof. Foto: Raahil Sain/ANA

Die regsverteenwoordiger vir die vrou wat van die ontvoering van die driejarige Nefrin Roberts aangekla word, het die hof versoek om die klag teen sy kliënt na kinderdiefstal te verander.

Megan Diedericks het Woensdag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering. Diedericks word daarvan beskuldig dat sy die kleuter vroeër vandeesmaand by die Summerstrand-strand uit die sorg van sy ouma ontvoer het.

Die polisie het voorheen gesê Diedericks het met die ouma begin gesels en die twee vroue het op die strand gekuier terwyl Nefrin naby hulle gespeel het. Diedericks het later saam met Nefrin na ʼn winkel gestap om sigarette te koop, maar het nie weer teruggekeer nie. ʼn Saak is by die polisie aanhangig gemaak en die seuntjie is later by Diedericks in ʼn plakkershut gevind.

Die verdediging het Woensdag aangevoer die kleuter is nie met geweld by sy ouma afgeneem of teen sy wil weggevat nie en daarom kan dit nie as ʼn ontvoering geklassifiseer word nie. Diedericks se regsverteenwoordiger sê Nefrin se ouma het hom aan Diedericks toevertrou en daarom moet die beskuldigde eerder van kinderdiefstal as ontvoering aangekla word.

Die staat het dié aansoek teengestaan en aangevoer ʼn kind is nie ʼn voorwerp nie en kan daarom nie “gesteel” word nie. “Die kind is weggeneem en die ouma het nie meer beheer gehad nie,” het die staatsaanklaer gesê.

Die saak sal vandag hervat wanneer die hof na verwagting sal beslis op watter aanklag Diedericks tereg sal staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Nel ·

Die staat is reg.

Sodra ‘n kind sonder toestemming uit sy ouerlike sorg verwyder word, sonder hul toestemming, is dit ontvoering. Die kind self kan nie eens toestem nie. Die ouma is nie die wettige voog nie (behalwe as so bepaal deur hofbevel) en het sy ook maar net met toestemming (uitdruklik of by implikasie) van die ouers, die kind by haar gehad.

Die ouers het egter nooit aan hierdie vreemde persoon toestemming gegee nie (die ouma kon ook nie, sy is nie die voog nie), so dit is en bly ontvoering per definisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.