Verdeeldheid oor voorgenome verbod op ou vlag

Die ou Suid-Afrikaanse vlag.

Die ou Suid-Afrikaanse vlag kom opnuut onder skoot nadat dit in ʼn slaghuis in Wellington, Nieu-Seeland, se venster vertoon is.

In Suid-Afrika is dit steeds wettig om dié vlag, wat deur talle Suid-Afrikaners as ʼn simbool van apartheid beskou word, te vertoon, maar dalk nie meer vir lank nie.

Die Nelson Mandela-stigting het in Februarie vanjaar ʼn aansoek hieroor by die gelykheidshof ingedien. Verlede week het die spesialisstaatsregsadviseur Theresa Molomoitime Ross ʼn beëdigde verklaring namens die departement van justisie ingedien ter ondersteuning van ʼn wetlike verbod op die vlag.

Die stigting vra dat die vertoning van die vlag in die openbaar sonder geldige rede verbied word op grond daarvan dat dit haatspraak is. Dit was nadat die ou vlag na bewering tydens die Swart Maandag-betogings teen plaasmoorde in Oktober 2017 vertoon is. Dié saak word na verwagting in April volgende jaar aangehoor.

Volgens die departement van justisie word die vlag wyd beskou as ʼn simbool van “blanke baasskap”, soortgelyk aan Nazi-simbole in Duitsland. Die departement gee toe bestaande wetgewing omskryf nie die vlag as “haatspraak” nie; daarom sal wetgewing verander moet word.

“Ons besluit om dié aansoek in te dien kom nadat ons jare lank gesien het hoe die vlag vertoon word en gehoop het sulke optrede sou end kry,” sê die Nelson Mandela-stigting in ʼn verklaring. Hulle meen dit vererger die lyding waaraan apartheid miljoene Suid-Afrikaners onderwerp het.

Dit help nie ʼn mens gooi allerhande tantrums daaroor nie.

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, het egter nog goeie moed dat die vlag eindelik tog eendag vir goed gebêre sal word. “Vlae het soveel simboliese en emosionele konneksies dat dit nie iets is waaroor ʼn mens wette moet maak nie. Dit moet iets wees wat mense mettertyd self ophou vertoon. Dit help nie ʼn mens gooi allerhande tantrums daaroor nie.”

Maar die stigting sê: “Na aanleiding van openbare debatte met AfriForum, een van die voorste figure in die Swart Maandag-betogings, het dit vir die stigting duidelik geword dat sommige Suid-Afrikaners nie ten volle begrip het daarvoor dat apartheid ʼn misdaad teen die mensdom was nie en dat die ongemotiveerde vertoning van apartheidsimbole neerkom op ʼn viering van dié misdaad en slagoffers daarvan verneder.”

Die stigting sê AfriForum het tydens die debatte toegegee dis “onverstandig” om die ou vlag te vertoon, maar nogtans aangevoer dat dit nie onwettig behoort te wees nie omdat dit deel is van die geskiedenis en “ʼn mens nie die geskiedenis kan verbied nie”.

“Ons voel mense moet die reg hê om die vlag te vertoon; dis nie haatspraak nie,” meen Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum. “Maar ons gebruik nie die vlag nie en ontmoedig mense om dit te gebruik.”

Hy sê AfriForum is as respondent by die saak gevoeg wat in April voor die gelykheidshof aangehoor word. “Ons wil standpunt inneem omdat ons glo dis nié haatspraak nie. Ons laat geen vlae by enige van ons optredes toe nie. As mense met die ou vlag opdaag, vra ons dat hulle dit wegsit.”

Ons voel mense het die reg om dit te vertoon.

Roets sê dit het ongelukkig gebeur dat “sekere groepe” daarin geslaag het om ʼn stigma aan die ou vlag te laat koppel, maar AfriForum is gekant daarteen dat die vlag wetlik verbied word. “Ons voel mense het die reg om dit te vertoon.”

AfriForum sal in die hof aanvoer vir iets om haatspraak te wees, moet dit onder meer aanhitsing wees tot enige vorm van skade. “Jou standpunt moet ʼn oproep tot aksie bevat,” verduidelik hy. “Om te sê ‘maak dood ʼn groep mense op grond van hul ras’ is haatspraak. Maar om ʼn vlag te vertoon, is nie.”

Ross het aan die Port Elizabethse dagblad, The Herald, gesê die regering wil juis wetgewing verander sodat simbole soos vlae wel as haatspraak gedefinieer kan word. Die nuwe Wet op Haatspraak sal dié begrip veel breër omskryf sodat dit ook emosionele, sielkundige, liggaamlike, maatskaplike en ekonomiese skade insluit.

Ross wou by navraag nie aan Maroela Media kommentaar lewer nie.

Wetgewing onderdruk mense se gevoelens.

Venter voorspel om die vlag te verbied, kan juis die teenoorgestelde uitwerking hê van wat met sulke wetgewing beoog word, naamlik dat dit dan ʼn soort protesvlag word waarmee betoog word teen alles wat mense meen fout is in die land.

“Ek sou sê as ʼn mens wetgewing daaroor wil instel, gaan jy die behoud van die vlag versterk. Wetgewing onderdruk mense se gevoelens. Dink maar aan die Nazi-simbole. Jy onderdruk dit en dan steek dit kop uit op allerhande plekke wat jy nie gedink het nie.”

Maar dr. Somadoda Fikeni, politieke ontleder, sê die res van die land kan nie gevange gehou word deur die moontlikheid dat mense die vlag vir hulle kan opeis nie. “Dit sou beteken die swastika moes nog wettig gewees het in Duitsland omdat mense te bang sou wees om dit te verbied,” sê Fikeni.

Simbole soos vlae kan dieselfde uitwerking hê as woorde.

Hy sê as ʼn mens ʼn stelsel gehad het wat as ʼn misdaad teen die mensdom verklaar is, soos met apartheid gebeur het, moet gepoog word om alle simbole te verwyder wat daarmee verband hou. “Simbole soos vlae kan dieselfde uitwerking hê as woorde, wat op haatspraak neerkom. Dit kan dieselfde kwade herinneringe oproep as mense se uitsprake.”

Volgens hom sal niemand kan bewys hul grondwetlike regte sal aangetas word net omdat hulle nie langer toegelaat word om ʼn sekere simbool, soos die ou Suid-Afrikaanse vlag, na willekeur te vertoon nie.

Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes steun ook ʼn verbod op die vlag. “Die ou Suid-Afrikaanse vlag is simbolies van ʼn uiters pynlike tydperk in ons geskiedenis,” sê Mary Kluk, die raad se president.

“Vir Suid-Afrikaners verteenwoordig die ou vlag onderdrukking en lyding asook vernedering. Ons ondersteun die Nelson Mandela-stigting se pogings om te verbied dat dit in die openbaar vertoon word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

80 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietman

Snaaks hoe mense die swastika vergelyk met die ou vlag. Onder die ANC vlag is veel meer en groter gruweldade gepleeg ( 13 000 swart mense dood tussen 1990 en 1994). Uit ‘n estetiese hoek is die ou vlag werklik mooi en alhoewel ek besef dit vir party mense slegte herhinneringe oproep laat die my terugdink aan orde en veiligheid. Ek verkies egter die ou betaafse vlag. Of gaan hulle die kleur oranje verban?

koos1

Nou as die vlag wetlik verbied word, dan word ALLE foto’s, skilderye en enige afbeelding van die vlag, in watter vorm ookal, dan ook onwettig?
Is dan die hele geskiedenis van die Afrikaner met een pennestreep onwettig?
My redenasie is miskien vergesog, maar ons kan en mag nie die huidige regering vertrou om sulke wette te maak nie. Hulle sal nou sê dat dit net op die en dat van toepassing is, maar wat gebeur oor 5 of 10 jaar? Dan gaan jy tronk toe omdat jy ‘n Leon Schuster fliek van 1980 besit waar die vlag vertoon word.

Jaco

Dan kan die EFF en kommunistiese simbole oor dieselfde kam geskeer word en ook verbied word seker? Een hou hom besig met haatspraak en opsweping en die ander het die ganse wereld op hol gejaag vir jare.

zoom zoom

Dan moet daar ‘n verbod geplaas word op alle partye wat haatspraak verkondig . Ek wyer om my ou vlag te vernietig.

Hendrik UAE

Julle krap en KRAP!!!!!!!!!!!!!!!!!