Verdere daling in brandstofprys verwag

(Foto: Christel Cornelissen)

Te midde van die verwoestende gevolge van die Covid-19-pandemie op ekonomieë wêreldwyd is daar darem goeie nuus vir motoriste.

“Suid-Afrika sal waarskynlik volgende maand, net soos in April, ʼn rekord daling in die prys van brandstof sien,” sê die Outomobiel Assosiasie (AA) in reaksie op ʼn onbevestigde vooruitskatting van brandstofpryse deur die Sentrale Energiefonds.

Volgens dié vooruitskatting kan die prys van petrol met R1,89 per liter, diesel met R1,17 per liter en paraffien met R1,88 per liter daal.

In Maart het die pryse vir petrol, olie en diesel gemiddeld R2 per liter gedaal. “Die ironie van die saak is dat dié daling kom in ʼn tyd waarin motoriste en sakeondernemings aansienlik ingeperk is in die manier waarop hulle hul voertuie aanwend,” sê die AA.

Sedert die tydperk van algehele afsondering op 26 Maart in werking getree het, mag Suid-Afrikaners hul voertuie slegs gebruik om noodsaaklike inkopies te doen, dokter toe te gaan of begrafnisse by te woon. In uiterse gevalle mag motoriste provinsiale grense oorsteek en dan ook net indien hulle die nodige permit of toestemming van ʼn hof verkry het.

Die AA sê selfs die rand se uiterse swak vertoning teen die dollar, met ʼn daling van R15,65 na meer as R18,00, kon nie die brandstofprys laat styg nie. “Onder normale omstandighede sou ʼn daling van 17% in ses weke ʼn astronomiese styging in brandstofpryse tot gevolg gehad het. Maar alles dui daarop dat die petrolprys verder sal daal.”

Volgens die AA is die faktore wat aanvanklik ʼn daling in die olieprys veroorsaak het vóór die uitbraak van Covid-19, soos die uitval tussen Rusland en Saoedi-Arabië, grotendeels opgeklaar.

“Dit is egter ʼn geval van ‘te min, te laat’. Die wêreldekonomie is aan flarde en selfs al is daar ʼn vinnige einde aan die Covid-19-pandemie sal dit ʼn hele paar maande neem vir die ekonomie om weer op dreef te kom,” sê die assosiasie. Dit sal dus nog lank wees voordat die olieprys weer begin styg.”

Die AA waarsku egter dat die markte geweldig onstabiel is en dat dié syfers heelwat anders teen die einde van die maand kan lyk.

“Maar as dinge bly soos dit nou is, kan Suid-Afrikaners verwag om ongeveer R3 per liter minder vir brandstof te betaal wanneer die tydperk van algehele afsondering aan die einde van April tot ʼn einde kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rodger17 ·

Toemaar die regering gaan dit na afsondering weer opsit dan kort hulle weer geld vir hulle buitensporige salarisse

Frikkels ·

Ons hoop maar hierdie donker wolk se silwer randjie, hou vir ñ paar maande.

antieke antie ·

die regering sal seker maak hulle sit die prys op om op te maak vir die verlies aan drank en sigaret belasting

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.