Verdere stygings in petrolprys verwag

Argieffoto (Foto: Paul Brennan/Pixabay)

Motoriste kan volgende maand ʼn verdere styging in die petrolprys verwag. Dit volg nadat brandstofpryse in Augustus reeds ʼn rekordhoë vlak bereik het. Effense verligting wag wel vir motoriste met dieselvoertuie.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê volgens die maandeinde petrolprysdata deur die Sentrale Energiefonds (CEF) verskaf, kan alle grade petrol met 4c per liter styg, terwyl diesel met 16c per liter en paraffien met 10c per liter kan daal.

Volgens die AA is die brandstofprysveranderings grotendeels weens dalings in internasionale petroleumpryse.

Die AA sê daar is wel lig aan die einde van die donker tonnel vir brandstofverbruikers indien die olieprys in die komende weke verder daal.

“Die olieprys het gedurende die eerste week in Augustus skerp gedaal, afgeplat en daarna verder geval. As hierdie neiging voortduur, is daar ’n moontlikheid van prysverlagings vir alle grade brandstof teen die einde van die maand. Dit sal welkome verligting bring ná die kwaai stygings van verlede maand,” het die AA gesê.

ʼn Daling in die olieprys kom ná die organisasie vir lande wat petroleum uitvoer (Opec) aangekondig het hulle gaan die produksie van olie tot 400 000 vate per dag verhoog. Dit nadat ʼn beperking op olieproduksie weens die Covid-19-pandemie geplaas is.

“Die verhoogde produksie van olie behoort die olieprys gedurende Augustus te laat stabiliseer,” het die AA gesê.

Die AA sê hy verwag ook nie enige verdere brandstoftekorte weens onluste in KwaZulu-Natal nie, aangesien die Suid-Afrikaanse Petroleumraffinaderye (Sapref) weer op 21 Julie sy bedrywighede voortgesit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johnny ·

Kan iemand asseblief vir ons verduidelik hoe diesel en paraffien kan goedkoper word terwyl petrol duurder word. Dit kom tog alles uit dieselfde olie?
MM – dalk ‘n artikel hieroor?

VaalDonkie ·

Kan wees dat die 2c wat diesel minder is by die petrolprys gevoeg word. Diesel is in elk geval ‘n neweproduk van die proses om petrol te maak so die “vervaardingskoste” is aansienlik laer. Want jy maak die diesel nie, jy sit net ‘n emmertjie onder die petrolmaker en die diesel drup daarin (of so iets XD). Die petrol proses sluk omtrent al die diesel kostes in.

KaRoOkWaGgA ·

Die oorgrote meerderheid Suid Afrikaners ry petrol voertuie, so die koei word gemelk.

VaalDonkie ·

Maak tog nie saak nie want dis nie asof ons enigsins mag rondry nie.

bcoetzee ·

En daar gaan al die lewens duur deur die dak, dit is tyd om oor te skakel na ‘n nuwe regering!

Kirst ·

Pasop waarvoor jy wens. Gaan kyk bietjie op YouTube na Frans Cronje van die Instituut vir Rasseverhoudinge se scenarios vir SA oor 10 jaar wanneer die ANC nie meer 50% van die stemme kry nie. Ons gaan aanhou belasting betaal, maar alles self moet doen uit ons eie sakke.

VaalDonkie ·

Jy moet jou vis mooi skoonmaak as jy wil he ek moet meer betaal, ne!

pokkel ·

ek sal maar begin uitkyk vir ‘n paar goeie donkies en ‘n donkiekar met mags en ‘n subwoofer :D

Sê maar net ·

Absoluut verregaande. Hierdie regering melk ons droog! Suid Afrika se brandstofpryse is van die hoogste in die wêreld!!

Vernon ·

Kyk maar,as prys moet daal..daal dit minder as wat dit moet…as dit styg..styg dit meer as wat die CEF voorstel. Weer n geleentheid van die regering om verliese op te maak vir die Viskis.

Werner ·

Maar net nog n bewys dat die regering bankrot is .Ondanks al die positiewe uitsprake deur sommige ekonome.Die petrol prys wat so eskaleer het in Zim het tot n rewolusie gelei wat ou mugabe se einde beteken het.Ons is ook nou baie ryp vir een.

Pieter ·

Botswana kry hulle petrol van ons maar hulle betaal nege rand n liter. Een woord vir die ANC kommuniste VOETSEK.

Jr ·

Bull dust – money to be used for new sassa grants. Money generation using the tax payers

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.