Verdere terugslag vir kleuter wat as baba in hospitaal brand

Juan Venter (5) en sy ma, Mariaan Pienaar.

Klein Juan Venter is maar vyf jaar oud en ten spyte van talle uitdagings wat hy in sy kort lewe teëgekom het, is daar van opgee by hom geen sprake nie.

Maroela Media het in 2014 oor Juan berig toe hy as pasgebore baba ernstige brandskade in die Bertha Goxwa-hospitaal in Germiston opgedoen het. Juan is op 18 Junie daardie jaar gebore en het die wonde onder ʼn verwarmer in die hospitaal opgedoen.

Sy ma, Mariaan Pienaar (30), sê hy moes by geboorte ook aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel word, maar dit het nie gebeur nie en dít het tot verdere komplikasies gelei.

Nóú het Pienaar en Juan se pa, Riaan Venter, nóg slegte nuus gekry: Juan is doof in sy linkeroor en hoewel daar ʼn klein bietjie gehoor in sy regteroor is, bestaan die vrees dat hy dit óók gaan verloor.

Juan is ‘n lewenslustige klein seuntjie wat al talle hindernisse moes oorkom.

“Hy praat byna glad nie en ons het in Desember verlede jaar besluit om hom vir gehoortoetse te neem. Dis die eerste keer dat ons gehoor het daar kom geen klank deur sy linkeroor nie,” het Pienaar gesê.

Hy is vroeër vandeesmaand weer getoets en die vroeëre diagnose is bevestig.

“Dit is ʼn groot skok vir ʼn ma en pa. Hy is al deur so baie sedert geboorte.”

Ma en seun was vandag (31 Januarie) by die Universiteit van Pretoria se gehoorkliniek, waar hulle met ʼn oudioloog vergader het om die voor- en nadele van ʼn kogleêre inplanting te bespreek. Dié inplantings word gewoonlik tussen geboorte en die ouderdom van vier gedoen, wat Juan net-net buite dié periode plaas. Hy is wel ʼn geskikte kandidaat vir ʼn inplanting, hoewel sy ouderdom teen hom tel.

Intussen gaan Juan vir ʼn proeftydperk gehoorapparate in albei sy ore kry om te kyk of dit enigsins met sy gehoor kan help. Die regteroor, waarmee hy nog effens kan hoor, gaan waarskynlik permanent ʼn gehoorapparaat kry. Sou Juan wél ʼn kogleêre inplanting in sy linkeroor kry, is ʼn gehoortoestel vir dié oortjie nie nodig nie.

Juan en sy pa, Riaan Venter.

ʼn Gehoortoestel is egter peperduur. Pienaar sê ʼn enkele apparaat kos nagenoeg R64 000 en ʼn kogleêre inplanting kos tussen R350 000 en R400 000. Dis geld wat min mense het en Pienaar sê hulle sal alles moontlik doen om die geld in te samel om klein Juan te help.

“ʼn Mens lyk dalk sterk, maar soms huil jy aan die binnekant,” sê dié ma wat voltyds na haar kind omsien.

Juan is ʼn vrolike en lewenslustige seuntjie. Hy het steeds die letsels van die brandwonde wat hy destyds opgedoen het en benodig ook heelwat spesialisaandag, onder meer dié van ʼn arbeidsterapeut. Hy het voorheen spraakterapie ondergaan, maar Pienaar sê hulle het dit gestaak tot ʼn besluit oor Juan se ore geneem is.

Die gesin sal na verwagting aanstaande week meer breedvoerige terugvoer kry oor ʼn behandelingsplan vir klein Juan – en wat dit alles eindelik gaan kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Magda ·

Het julle klagtes teen die personeel se agterlosigheid geneem in 2014 by die Hospitaal?

Madelene ·

Duidelik is Mamma en Pappa nie getroud nie. Maar is dit al wat jy verstaan van die artikel

Hugh ·

The horrors in our hospitals due to negligence and incompetent sadistic cruel staff is beyond words. May this poor child grow up to greatness one day and testify to overcoming all this adversaries life has dealt him at such a tender age!

Misky ·

Ek stem saam met Magda. Het julle n eis teen die hospitaal ingesit en daai gelde kan dan aangewend word vir al die onkostes wat sekerlik indirekn gevolg is van hulle agterlosigheid.

Ek sou hulle “ry” tot die einde van dae!!!!

Sandra ·

Dis ‘n vreeslike terugslag vir die kind en sy ouers maar hy glimlag darem deur dit alles.

DieKriek ·

Ek is ook doof en het kogleêre inplantings aan beide kante. Juan is nog jonk en kinders kan wonderbaarlik aanpas. Ek bid dat hulle bevondsing kan kry vir die operasie en die peperduur opvolg besoeke. Dit gaan sy lewe verander.

Catharina ·

My ma is dood as gevolg van die hospitaal. Sy is ingeneem op ‘n saterdag aand. Op ‘n woensdag is sy “losgelaat” terwyl sy in ‘n koma was (geen reaksie, nie wakker, konnie praat nie). ‘n ander baie beter staatshospitaal het haar probeer red maar sy is dood in die ander hospitaal. Ons kon nie veel bewys nie… Maar ek waarsku mense moet eerder nie na daardie hospitaal gaan nie. Die dokters was ongeskik en het geensins my ma gehelp nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.