Verdere uitstel vir Zuma se reaksie op Nkandla

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

President Jacob Zuma benodig nog inligting voordat hy op bevindings oor sy Nkandla-huis kan reageer, het sy kantoor Donderdag gesê nadat hy ʼn sperdatum gemis het om aan die parlement verslag te doen.

“President Zuma berei steeds die verslag vir die speaker voor oor opgraderings by sy huis in Nkandla,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir Zuma, in ʼn verklaring gesê. “Hy sal die verslag so gou as moontlik indien nadat hy al die nodige inligting ontvang het.”

Zuma het onderneem om omvattend verslag te doen aan speaker Baleka Mbete oor die uitslag van drie afsonderlike ondersoeke oor opgraderings van R246 miljoen by sy huis in KwaZulu-Natal. Die sperdatum was Woensdag.

Maharaj het bygevoeg een van die kwessies is die spesiale ondersoekeenheid se finale verslag. Die SOE het onlangs bevestig dat sy finale verslag vertraag word. Vas Soni, hoof van die SOE, het verlede week aan LP’s gesê dit is deels omdat twee persone, wat in die verslag geïmpliseer word, versuim het om op vrae te reageer. Hy wou nie die twee persone se name bekend maak nie. Ondersoekbeamptes het ook eers op 3 Julie toegang tot Nkandla bekom, ses maande ná die ondersoek begin het.

Maharaj het gesê hy glo die SOE se verslag sal binnekort beskikbaar wees en dat die parlement in kennis gestel is oor die president se besluit om sy reaksie uit te stel.

Die Openbare Beskermer het in Maart in haar verslag bekend gemaak dat Zuma en sy familie onregmatig voordeel getrek het uit die opgraderings en het bevind dat Zuma self vir sommige van die opgraderings moet betaal. Zuma wou nie binne die vereiste 14 dae op Thuli Madonsela se verslag reageer nie, en het aangedui hy wag vir die SOE se bevindings.

Zuma het in ʼn brief, gedateer 4 Junie, aan Mbete gesê hy het die SOE se voorlopige verslag ontvang en dat hy binne 30 dae ʼn volledige en omvattende verslag aan haar sal voorhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

se-net ·

As ons iets v Zuma gaan hoor, gaan dit tog net wees hoe onskuldig hy is! BLA-BLA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.