Verdere verligting vir drankbedryf verwelkom

Die aankondiging oor drankverkope is verwelkom. (Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Drankhandelsnaamvereniging (Salba) het die verdere verslapping van afsonderingsregulasies verwelkom.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig Suid-Afrika skuif nou na vlak 1 van die afsonderingsregulasies. Ingevolge die verslapte regulasies mag alkohol vir verbruik op die perseel, asook vir tuisgebruik, volgens normale lisensievoorwaardes verkoop word. Dit sluit naweke in.

Drank mag egter steeds nie ná 23:00 verkoop word nie.

Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, sê die regering het ten einde laaste begrip getoon vir die bedryf se lot deur die “irrasionele beperkings” te verslap.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het vroeër al gesê Suid-Afrika het nou die derde vlaag infeksies agter die rug, die nasionale sewedaggemiddeld daal en die positiwiteitskoers word al hoe laer.

Volgens die jongste syfers is 1 678 nuwe gevalle van die virus aangemeld.

Salba sê die maande lange beperkings op drankverkope het net die onwettige bedryf verder versterk en wettige ondernemings wat reeds onder die irrasionele maatreëls gesteier het, se lot vererger.

Volgens Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba, staar rekordwerkloosheidsvlakke die land in die gesig. “Ons moet verdere ekonomiese verliese stuit en begin om die ekonomie na ʼn mate van normaliteit te laat terugkeer.

“Die verbodsbepalings op alkohol het omvattende werksverliese en kleiner inkomstes in die drankwaardeketting veroorsaak,” sê Moore.

Daarbenewens is daar ook bewyse dat die armes en diegene wat reeds minder verdien, proporsioneel swaarder deur die ekonomiese insinking getref is. Dit sluit in veral arbeiders en diegene wat by pakhuise of in die kleinhandelbedryf werk, sê hy.

Die bedryf het ook opnuut sy steun vir die regering se inentingsprogram gegee, veral die Vooma-inentingsnaweke. Ramaphosa sê die regering besef dit is vir baie mense moeilik om op ʼn weeksdag ingeënt te word en hulle kan nou oor naweke die entstof ontvang.

Die eerste Vooma-inentingsnaweek vind al dié naweek plaas.

Moore sê die alkoholbedryf moedig sy werkers aktief aan om teen Covid-19 ingeënt te word en gaan saam met ander rolspelers hard werk om te verseker dat kudde-immuniteit bereik word en verdere verbodsbepalings voorkom word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet ·

Anc moes die alkoholbedryf lamlê dat hul anc boeties met taverns kan geldmaak sowel as hul onwettige anc dranksmouse!!!!

Mariana ·

En wat gebeur na die verkiesing, weer terug na lockdown level ?Vertrou nou net een maal nie die spul nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.