Verdere waterbeperkings vir Kaapstad; waarskuwing oor smaak

Argieffoto (Foto: dechatorn, Pixabay)

Argieffoto (Foto: dechatorn, Pixabay)

Die stad Kaapstad het ʼn voorstel goedgekeur om waterbeperkings in te stel en gewaarsku dat inwoners ongereelde waterdruk kan ervaar weens lae damvlakke.

Die stad het ook gewaarsku dat die water se kleur moontlik kan verskil en dalk anders kan smaak.

Burgemeesterskomiteelid Ernest Sonnenberg het Donderdag gesê vlak 2-waterbeperkings is in Kaapstad goedgekeur, ná ʼn wysiging aangebring is tot sake wat verband hou met gebruikers wat van alternatiewe waterbronne gebruik maak. Hy het gesê die voorstel is tydens die stadsraad se laaste vergadering vir 2015 goedgekeur.

Volgens hom beteken die waterbeperkings, wat ingestel is in die lig van die voortslepende droogtetoestande, dat inwoners hul waterverbruik sal moet beperk. Inwoners wat van alternatiewe waterbronne soos reënwater, gryswater, behandelde afvalwater, putte en boorgate gebruik maak, moet slegs voor 09:00 en ná 18:00 op Dinsdae, Donderdae en Saterdae tuine, parke en openbare plekke natlei. Hierdie gebruikers moet nie vir meer as ʼn uur lank water gebruik nie.

Daar moet ook duidelike kennisgewingborde aangebring word dat alternatiewe waterbronne gebruik word en die gebruikers moet by die stadsraad registreer.

Sonnenberg het bygevoeg die stad is in ʼn waterskaars-streek geleë en vlak 1-beperkings word ten alle tye toegepas.

Hy het gesê die water kan moontlik soos grond proe en ruik, maar dit is nie giftig of skadelik vir enigiemand se gesondheid nie. Hy het gesê inwoners en besoekers kan gerus wees dat die stad onverpoosd werk om seker te maak dat die watergehalte veilig bly vir menslike gebruik.

Inwoners sal vanaf 1 Januarie 2016 die impak van die waterbeperkings op hul rekeninge sien. Indien gebruikers hul waterverbruik met 10% beperk, sal hulle ʼn soortgelyke randbedrag op hul rekening sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

In die Vrystaat se Metsimaholo munisipaliteit (Sasolburg) gaan hulle nou kubane gebruik vir hulle probleme so al asof daar nie genoeg kundiges is. Ag, daar vergeet ek, hulle (die kundiges) se velle is wit . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.