Verdoemende bevindings oor Covid-19-hulppakket

Die ouditeur-generaal Kimi Makwetu. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die ouditeur-generaal (OG), Kimi Makwetu, wat in opdrag van pres. Cyril Ramaphosa begin het met ʼn oudit na 16 sleutel-Covid-19-inisiatiewe wat die regering in reaksie op die pandemie van stapel gestuur het, het reeds verdoemende bevindings gemaak.

Die eerste in ʼn reeks verslae oor die bestuur van R68,9 miljard is Woensdag bekend gemaak. Die hulppakket beloop altesaam R500 miljard. Die verslag is vir alle uitgawes wat tot 31 Julie aangegaan is.

Volgens Makwetu is die noodmaatreëls en vinnige optrede benodig om lewens en inkomste te red, maar die verslapping van beheermaatreëls en prosedure om op die pandemie te reageer, het die regering blootgestel aan die gevaar van wanbestuur of misbruik van staatshulpbronne.

Daar was die afgelope paar weke toenemende woede oor beweerde tenderongerymdhede met veral die toekenning van persoonlike beskermingstoerusting (PPE).

“Ons doen verslag oor en waarsku oor swak finansiële beheermaatreëls, ʼn verontagsaming van wetgewing oor verkrygingsbestuur, ʼn onvermoë om projekte doeltreffend te bestuur en ʼn gebrek aan aanspreeklikheid in talle regeringsdepartemente wat nou die regering se pogings moet lei of ondersteun,” het Makwetu gesê.

Ouditspanne het bevind die vinnige inwerkingstelling van sommige programme het reeds beduidende risiko’s veroorsaak. Prosesse, kriteria, behoeftes en beheermaatreëls is nie behoorlik deurdink nie en in die oorhaastige inwerkingstelling is foute gemaak en geleenthede vir misbruik geskep.

“Ons is bekommerd oor die aanwysers vir die hoë risiko vir bedrog en misbruik wat ons waargeneem het – nie net in die afdelings wat ons kon oudit nie, maar ook waar inligting vir ouditering nie verskaf is nie. Dit kan ʼn doelbewuste manier wees om ons ouditpogings in die wiele te ry,” het Makwetu gesê.

TERS- en Sassa-betalings

(Argieffoto)

Die OG het bevind die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het die bykomende toelae wat beskikbaar gestel is om diegene wat deur die afsonderingstydperk geraak word te ondersteun, begin uitbetaal voordat seker gemaak is dat behoorlike beheermaatreëls ingestel is.

Dit het die kans verhoog dat betalings gedoen word aan diegene wat nie daarvoor in aanmerking kom nie, asook dat sommige eisers te min betaal is en sommige eise sonder geldige redes verwerp is. Dit het ook die deur geopen vir bedrog en dubbelbetalings.

Die WVF het reeds eise van meer as R37 miljard uitbetaal en Sassa sowat R19,6 miljard in maatskaplike toelae.

Van die sleutelbevindings sluit in dat die TERS-stelsel die voordele vir die eerste afsonderingstydperk (van 27 Maart tot 30 April) verkeerd bereken het en beduidende oorbetalings gedoen is.

Die OG het ook bevind die gevaar bestaan dat die spesiale R350-toelaag betaal word aan mense wat dit nié benodig nie. Betalings aan nagenoeg 30 000 begunstigdes moet verder ondersoek word. Dit sluit in betalings aan staatsdienswerkers of diegene wat reeds ander toelae ontvang.

Voor die R350-toelaag in werking gestel is, het Sassa ʼn gedeelte van sy begroting gebruik om kospakkies aan behoeftiges te versprei. Teen 11 Mei is 146 936 van dié pakkies versprei. Volgens die OG kon dit egter veel goedkoper gedoen word as Sassa sy bestaande netwerk van nieregeringsorganisasies daarvoor gebruik het, eerder as om diensverskaffers aan te stel.

Persoonlike beskermingstoerusting  (PPE)

(Foto: pixabay)

Die OG het ook bevind vertragings met die verspreiding van PPE’s na skole was een van die faktore wat tot die vertraging in die heropening van skole gelei het.

Die nasionale tesourie het markverwante pryse vir spesifieke PPE-items gespesifiseer, maar in sommige gevalle het die gesondheidsdepartement die toerusting teen dubbel die prys, of soms selfs vyf keer meer as die voorgeskrewe prys, aangekoop.

Ook die onderwysdepartement het volgens die OG dikwels nie PPE’s teen markverwante pryse aangekoop nie.

“Die aankoop van PPE’s bly ʼn sleutelfokus vir die oudit en die meeste van die ouditwerk behoort binne die volgende twee maande afgehandel te word. Die volgende verslag gaan ʼn meer omvattende prentjie skets,” lui die verslag.

“Daar is ʼn duidelike aanduiding van bedrieglike bedrywighede in die verkrygingsproses wat verder ondersoek sal word en met die nuut gestigte Fusion-sentrum en ander ondersoekagentskappe gedeel sal word.”

Makwetu het ʼn beroep op alle betrokkenes gedoen om gehoor te gee aan die oproep om voorkomend op te tree.

“Die ontwerp en inwerkingstelling van maatreëls om bedrog, foute en misbruik te voorkom, is ʼn belegging wat vrugte afwerp wanneer daar van ʼn instelling verwag word om ʼn krisis, soos die een wat ons nou ondervind, te hanteer.

“Dit is ʼn veel beter aanslag as om uitgerekte en duur ondersoeke te doen en hulpbronne en openbare vertroue te verloor.

“Selfs te midde van ʼn krisis kan deursigtigheid en aanspreeklikheid vir regeringsbesteding tot voordeel van burgers nie aan die agterspeen suig nie,” sê Makwetu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Mense weet julle hoe baie is R500 miljard en ons het nou die dag nog ‘Ek kan doen met ‘n miljoen’ met blinkers in die oè gesing; iets waaroor ons net kon droom. Waar bère die skimmels die geld? Banke moes darem sekerlik snuf in die neus gekry het oor die groot geld nogal so in die afsonderingsfases of waarheen word sulke geld gekanaliseer? Daar is groter samewerking tussen groepe as wat ons besef. Moet ons nou ook aan Cyril vra: ‘Give back our money’ of is hy verhewe bo Zuma?

Persheks Adri ·

Hoeveel foute gaan julle nog maak? Als is oorhaastig gedoen en nou is dit foute regtig? Met die korrupte regering moet iemand aanspreeklikheid aanvaar. Wie gaan dit wees Cyril? Nog nie 1 van jou kaders sit al in oranje pakkies nie! SHAME ON YOU!!! Dit kom nou van dink jy’s slim ne

Skud bietjie julle salarisse terug na die land en ons belasting betalers toe! Sou my kop in skaamte laat sak het as ek in jou skoene was!

Johann ·

Whone beljohn seventi fousant ant yghti whone hundrit…min of meer waar die probleem begin. RamPapoza se kaders se begrip van en vir werklike waarde van bedrae. En natuurlik dat die tjelete oop en bloot in die pety cash boxi lê.

Jaco ·

Te laat maar bly iemand wil iets begin doen. Kan nou al waarborg dat daar gaan groot teenstand kom van manne binne die ANC

Piet ·

Watter projek het die Staat en ANC al ooit aangepas waar daar nie bedrog by betrokke is nie.?

DisEkke ·

Een korrupsie skandaal op die ander en dit hou nie op nie. Dit blyk dat wanneer daar geld bekom of bewillig word aan die regering, is korrupsie en verduistering van die fondse nou ‘n gegewe, dus is dit deel van die projek…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.