‘Verdoemende bewyse’ teen Sasolburg-moordverdagte

Stanley Lingena (links) en Sithembiso Hlongwane (regs). (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die staat het Woensdag onthul dat “verdoemende bewyse” teen een van die hoofverdagtes in die moord op Annie Liebenberg (62) en haar lewensmaat, Michael Zantow (64), gevind is.

Nie net is van die oorledenes se besittings in Stanley Lingena se huis gevind nie, maar die staat voer aan hy het probeer om van die oorledenes se persoonlike items, soos hul identiteitsdokumente, in ʼn puttoilet af te spoel om sy betrokkenheid te verbloem.

Lingena is Woensdag vir die tweede agtereenvolgende dag aan kruisondervraging in die rondgaande hof op Parys onderwerp.

Die staatsaanklaer sê die polisie het enkele ure voor en nadat hy en sy medebeskuldigde, Sithembiso Hlongwane, in hegtenis geneem is op verskeie plekke in Sasolburg op die oorledenes se besittings afgekom. Dié items is vermoedelik deur die twee beskuldigdes gesteel vir persoonlike gebruik.

Die polisie het Lingena en Hlongwane Sondagaand – dieselfde dag wat daar op Zantow se liggaam afgekom is – in Zantow se wit Volkswagen Jetta probeer aankeer. Hoewel die verdagtes daarin geslaag het om die polisie te ontduik, het hulle die motor agtergelaat. Hierin is onder meer ʼn mikrogolfoond gevind. Dit is later positief geïdentifiseer as een van Liebenberg se besittings.

Lingena het tydens kruisondervraging gesê dat hy nie kommentaar kan lewer oor hoe die betrokke mikrogolfoond in die motor beland het nie, aangesien dit voor daardie aand nie in die motor was nie.

Die volgende oggend (Maandag) het die polisie Lingena by sy huis aangetref en in hegtenis geneem. Terwyl sy huis deursoek is, is daar op ʼn vrou se sak afgekom wat onder meer Liebenberg se bankkaarte bevat het.

Volgens Lingena is hierdie items nie in sy huis gevind nie en het die polisie eerder op drie sleutelborde afgekom, wat glo aan hom behoort.

Die staatsaanklaer het toegegee dat die items wat in Lingena se huis gevind is, nie op die toneel afgeneem is nie, maar eerder later by die polisiestasie toe dit ingeteken is as bewyse.

Later die dag toe die polisie die twee misdaadtonele gefynkam het, het dit aan die lig gekom dat Lingena vermoedelik items in ʼn puttoilet naby sy woning aan die buitewyke van Sasolburg weggesteek het. Lingena is saam met die polisie na die betrokke toilet toe.

Die polisie het in een van die toilette allerlei persoonlike items van die oorledenes gevind. Die slagoffers se identiteitsdokumente is ook gevind. Dit was in ontlasting bedek.

“Hierdie items was van geen monetêre waarde nie, maar kon jou [Lingena] direk verbind met die moord, daarom het jy daarvan ontslae geraak in ʼn plek waar verskeie mense hulself verlig sodat dit geheel en al begrawe word,” het die staatsaanklaer aan Lingena gesê.

Lingena het in reaksie daarop gesê dat hy die items vir die eerste keer gesien het toe die polisie dit voor hom uitgelê het.

Later die week het ʼn kennis van Lingena vrywillig na die plaaslike polisiestasie gegaan en ʼn tablet aan beamptes oorhandig. Die kennis, wat as staatsgetuie opgetree het, sê Lingena het die tablet na die salon gebring waar hy werksaam is en gevra dat die battery daar gelaai word, aangesien Lingena nie elektrisiteit by sy huis het nie.

Volgens die staatsaanklaer het Liebenberg se dogter, Maryke, bevestig dat die betrokke tablet haar ma sʼn was omdat dit ʼn groot kraak op die skerm het – nes haar ma sʼn.

Lingena het na bewering die naweek van die moorde boonop ook ʼn selfoon na die kennis gebring om te laai. Lingena voer aan dat Zantow vir hom die selfoon gegee het om reg te maak, daarom wou hy eers toets of die selfoon se battery gelaai kan word.

“As jy nie die moordenaar [van Zantow en Liebenberg] is nie, waarom is soveel van hul gesteelde besittings in jou huis en ʼn puttoilet naby jou huis gevind?” het die staatsaanklaer aan Lingena gevra.

Die polisie het glo ook verskeie items by Hlongwane se huis gevind.

Hlongwane sal Donderdag sy getuienis lewer, waarna hy kruisondervra sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

LIEZL ·

Dit sal weer en weer gebeur. Hulle is mos aangestel om moord te pleeg, so hulle sal loskom. Sit en lag asof dit ‘n grap is.

Mariana ·

Daai grynslag moet van sy gevreet afgevee word. Mog hulle swaar gestraf word. Maar Liezl is waarskynlik reg, hulle sal loskom, want hulle word beskerm deur hul base.

JohanEtz ·

In die selle as verhoogafwagtendes, speel hierdiesulkes baas.
Die netjiese klere wat hul dra, neem hulle summier af by bang mede-selmaats…
Totale intimidasie. Word soos helde behandel. Hierdie tipe misdaad sal nooit eindig nie…

Dup ·

Donker Afrika….waar die kriminele in beheer is…..of nie ?

TruthDealer ·

If i had my way, that little laugh would be the last damn thing he ever did.

George ·

Kyk hoe sit hy en lag daar, want hy weet hy’t cyril se orders deurgevat.

Catherina ·

Kyk hoe lekker lag een v d beskuldiges. Arme vermoordes se familie

koos ·

Die bloed van die onskuldiges roep onder God se altaar uit om vergelding….

Vanessa ·

Ek wonder of hulle ook so sal lag as dit met sy ma/pa gebeur het. Ek vra maar net, want dit lyk of alles een groot grap is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.