Verdoemende verslag oor Julie-oproer bekend

Die kenners bevind in die verslag onder meer die polisie het “versuim om die oproer en plundering” te stuit. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

ʼn Paneel kundiges wat aangewys is om die dodelike opstande verlede jaar te ondersoek, het verdoemende bevindings gemaak – nie net oor die polisie en ander veiligheidsmagte se hantering daarvan nie, maar ook oor die vae skeidslyn tussen uitvoerende gesagsowerhede en die land se veiligheidsinstellings.

Bevindings sluit in dat die reaksie van die land se veiligheidsdienste op die onluste nie tydig, gepas óf voldoende was nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag toestemming gegee dat die paneel kenners, onder leiding van prof. Sandy Afrika, se verslag oor die onluste bekend gemaak mag word. Dit is in November verlede jaar reeds aan die president oorhandig.

Die paneel het bevind faksiegevegte in die ANC het ʼn ernstige bron van onbestendigheid in die land geword. “Dit is ʼn kwessie van groot kommer en die redes hiervoor moet spoedig geïdentifiseer word.”

Polisie stuit nie plundering

Die kenners bevind in die verslag ook die polisie het “versuim om die oproer en plundering” te stuit.

“Die redes hiervoor is ingewikkeld en soms nie weens hul [die polisie se] eie toedoen nie. In sommige gevalle het hulle nie genoeg intelligensie ontvang om operasies te beplan nie. Dit is onduidelik hoekom dit so was, maar een van die redes kan wees dat minstens ses lede van die senior leierskap van misdaadintelligensie geskors is in die tydperk voor die uitbreking van die geweld.

“Dit sal moeilik wees vir ʼn organisasie wat op hierdie manier weggekalwe is om ʼn krisistyd te bowe te kom,” lui een van die bevindings.

Staatsinstellings het versuim om tydige risiko-assesserings te doen, ondanks volgehoue aanvalle op die gesag van die staat deur sommige mense en organisasies, het die kenners bevind.

ʼn Forensiese kenner het aan die paneel gesê die oproer het kenmerke gehad van ʼn groep mense wat vir die organisering van die oproer verantwoordelik was en dat hulle tegnologie gebruik het om hul doelwit te bereik.

Nog bevindings lui:

  • “Die metodes wat hulle ingespan het, het die polisie onkant betrap en hulle kon nie hul taktiek by die situasie aanpas nie.”
  • “Die polisie was onvoldoende toegerus en hul skarebeheertoerusting het opgeraak.”
  • “Die polisie is oorweldig deur die groot aantal plunderaars …”

Die paneel het bevind die “skeidslyn tussen die uitvoerende gesagsliggame en die veiligheidsdienste het vaag gelyk”. Dit lyk ook nie of die betrokke ministers op ʼn “doelbewus gekoördineerde manier” opgetree het nie en dat daar hiervoor te veel teenstrydige openbare verklarings en rusies tussen hulle was.

Luidens die verslag is dit onduidelik of die ministers, veral dié van die polisie, verdediging en staatsveiligheid, toestemming by Ramaphosa, as voorsitter van die nasionale veiligheidsraad, vir hul onderskeie optrede en ingrypings gekry het. Hulle het op eie inisiatief na byvoorbeeld KwaZulu-Natal gegaan en operasionele sentrums daar op die been gebring.

Dit lyk boonop of die ministers meer regstreeks by intelligensie- en operasionele werk betrokke was en die indruk gewek het dat hulle hul magte oorskry of ingemeng het.

Verskeie mense is ná afloop van die oproer in hegtenis geneem, maar die paneel sê die feit dat geen “organiseerders of werklike aanhitsers aangekeer is nie, is rede tot kommer”.

“Indien die president intelligensie oor die aanhitsers ontvang het, is die vraag waarom hy nie die land die versekering gegee het dat die regering gaan optree nie.”

Die verslag lui voorts dat die president in ʼn krisistyd “die regering moet lei in die kommunikasie van ʼn enkele, duidelike boodskap oor wat gebeur, hoekom dit gebeur en wat die regering daaraan doen”.

Ramaphosa het die paneel opdrag gegee om te bepaal of die reaksie van die land se veiligheidsdienste tydig, gepas en voldoende was. “Die antwoord hierop, wat die polisie en die intelligensiedienste betref, is ʼn onomwonde nee.

“Talle redes is aangebied vir hierdie mislukking, maar uiteindelik het hulle versuim om die nodige te doen om lyf en lewe en eiendom te beskerm.”

Uitvoerende gesag moet boet

Die paneel bevind dat verskeie redes hiervoor aangevoer word, maar dat die uitvoerende gesag ook deels skuld dra en aanspreeklikheid moet aanvaar vir die gebrek aan leierskap.

Hulle beveel onder meer aan dat die aanstellingsprosedure vir ʼn nasionale polisiekommissaris moontlik gewysig moet word en dat beleid oor gemeenskapspatrollies in teenmisdaadoperasies verfyn moet word.

“Daar is meriete in gemeenskappe wat saam met die polisie werk om misdaad te beveg, maar daar is ʼn rede hoekom die staat in ʼn demokrasie ʼn monopolie oor die gebruik van mag het. Die oorgang van gewapende gemeenskapspatrollies tot boendoegeregtigheid kan vinnig wees, soos tydens die Julie-oproer gesien is.”

Die paneel sê ook maatskaplike verandering moet plaasvind. “Dit kan nie wees dat daar drie dekades ná ons demokrasie steeds diep rasgegronde armoede en ongelykheid in ons samelewing is nie. Sonder ʼn einde of ʼn omkeer van die omstandighede gaan ons net groter onveiligheid sien wat beteken meer hulpbronne moet na veiligheidsingryping herlei word.”

Talle mense voer aan die vraag is nie of daar meer oproer en geweld gaan plaasvind nie, maar wanneer dit gaan gebeur, lui die verslag.

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Shakespeare ·

Die ANC/EFF sal dit nie stop nie. Hulle wil dit so hê want Kommunisme is pragtig in plek. SKUIM !!!

SlinkseKoljander ·

Ja en wat nou?? Nou word alles net onder die mat in gevee en belasting betalers se geld weer gemors op ANC nosens!

Casper ·

Die verslag sê dit nie in soveel woorde nie maar ons kan aflei dat ministers nie geskik is vir hulle poste nie en dat ministers die president ondermyn.Rampie ons sê dit al lankal,raak ontslae van die vrot appels hoedman eerste en dan die res.

kantlynwaghond ·

Hoekom wag Ramaphosa DRIE maande voor bekendmaking vd verslag se inhoud?

Windhond ·

So vir 3 maande reeds is daar boggerol gedoen…………………??????

Christine ·

Sekerlik genoeg inligting om van die minister van Polisie ontslae te raak.

Juffrou ·

Ja dis beslis ń verdoemende verslag!
Dit impliseer die hele gespuis.
Mense, jul moes Durban beleef het. Dankie aan die buurtwag én inwoners wat saamgestaan het én dag en nag vir ń week lank alle ingange na ons woonbuurte bewaak het. Weermag was nie in sig. Nog minder hoed en sy makkers.

Nie Verbaas ·

So wat hulle in die berig sê is dat die polisie en weermag absoluut geen vermoë besit om op hulle voete te dink nie. Viva BEE ANC!!

Deon ·

En vir die lot van hulle wat eerder wil engels as afrikaans, incompetent

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Die rede hoekom SA ongelyk is, kan vierkantig voor die regering se deur gelê word.

Lillian ·

Die oproer het niks te make met Zuma nie. Daai mannetjie en sy trawante met die rooi oorpakke sit hieragter. Hyt jare gelede gesê hy gaan dié land onregeerbaar maak. Hy was nie verniet so tjoepstil deur die hele gemors nie.

Sarel ·

Hoekom is oom Hoedjiec nog in sy pos?.
Die verskag was reeds September vrygestel maar
ons het nog geen regstellenee optrede gesien nie.
Destydse Minister van Verdediging is bevorder
Tot Speaker..

Harley Davidson ·

Kyk maar net na die misdaad in sa en alles maak dan sin oor die “polisie

KB ·

Ramaphosa sit al van November 2021 met die verslag, en nou wil hy hê daar moet “spoedig” iets aan hierdie saak gedoen word.
Met sý spoed val hy dalk van sy eie fiets af! (Om fiets te ry het jy balans, rigting en positiewe beweging nodig…die regering het nie een vd drie eienskappe nie!)

Waarnemer ·

“Die uitvoerende gesag moet verantwoording doen”….heeltemal korrek….begin by Ramaphosa,dan die ministers van polisie,weermag ensv…fire die hele kabinet en begin van vooraf!!! En volgende,gebruik skerp punt ammunisie as so n voorval weer plaas vind.

Vicky ·

En dit gaan weer gebeur. Die gissings onder die mense in KZN is klaar aan die bespreek.

annie ·

… maatskaplike veranderinge… Drie miljoen se goedjies vat en onder 50+ miljoen uitdeel? Die oplossing ooreenkomstig die ANC se rewolusionêre bloudruk en ideologiese konsep soos ingebed in Afrika; ‘n quickie-vir-nou se lekker koningslewe en dan sit ons weer en wag op die kaal geskropte aarde dat hulp reën vanaf die VN soos in Ethiopië. Hoekom sou soiets bv nooit in Sjina gebeur nie… Met so ‘n groot bevolking?

Nico ·

Die SAPD het behoorlike opgeleide mannekrag om sulke sake op te los nie, die SAPD het baiekeer deel aan die stropings, daar is mos MK lede in die polisie mag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.