Verdrinkte dryf tussen swemmers

’n Man het Dinsdag by Wedge Beach by die Snell Parade in Durban verdrink. (Foto: Netcare 911)

’n Man wat Dinsdag by Wedge Beach by die Snell Parade in Durban verdrink het, het tussen ’n groep baaiers gedryf.

Hoewel noodbehandeling op die man toegepas is, is hy op die toneel dood verklaar.

Shawn Herbst, woordvoerder vir Netcare 911, sê nooddienswerkers is kort ná 13:00 na die toneel ontbied waar lewensredders reeds met noodhulp besig was.

“eThekwini-lewensredders is [van die man in die water] in kennis gestel en het hom dadelik na die strand gebring.

“Die lewensredders het noodbehandeling toegepas aangesien hy nie gereageer of asemgehaal het nie.”

Herbst sê nooddienswerkers het met hul aankoms op die toneel by lewensredders oorgeneem en verder probeer om die man by te bring.

“Ongelukkig het die man nie op behandeling gereageer nie en hy is dood verklaar.”

Die man se naam en ouderdom is nie bekendgemaak nie. Dit is ook nie duidelik wat tot die verdrinking gelei het of hoe lank hy in die water gedryf het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.