Verdwaalde stappers (en hond) by Houtbaai gered

(Foto: Cape Town ETC)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Houtbaai is Saterdag omstreeks 17:40 ontbied ná ʼn groep stappers – en hul hond – op die Hangberg-staproete, tussen Houtbaai en Sandybaai, verdwaal en ontwater het.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, is die Wes-Kaapse nooddienste, die metropolisie, EMS-reddingparamedici, Wildernis-soek-en-redding (WSAR), die polisie en die EMS/AMS-Skymed-reddingshelikopter, ontbied.

“Ons het vaagweg ʼn idee gehad van waar die stappers in daardie stadium op die roete kon wees. Die NSRI se Houtbaai-reddingstuig, Albie Matthews, is gestuur om van die see se kant na die stappers te soek.”

Lambinon sê die groep stappers is later oos van die oorspronklike gebied aangetref waarin hulle na verwagting sou wees. Seetoestande was egter te rof om die stappers van die kuslyn af na veiligheid te neem.

“’n Reddingswerker is later in ʼn tegniese lugreddingsoperasie van ʼn helikopter na die stappers gestuur en daar is vasgestel dat hulle veilig is. In die kwynende lig was ʼn dringende poging egter nodig.

“Die twee vroue is aan harnasse vasgemaak en in die Skymed-reddingshelikopter opgehys en na ʼn landingsone gebring wat by NSRI Houtbaai voorberei is.

“Skymed het daarna teruggekeer na die toneel, waarna die man in ʼn harnas vasgemaak is – met hul hond aan sy rug vasgebind – waarna hy ook opgehys en na veiligheid gebring is,” sê Lambinon.

Die groep is deur die NSRI-reddingsvoertuig vervoer om hul motor by Sandybaai te gaan haal en geen verdere hulp was nodig nie.

Lambinon het opnuut ʼn beroep op stappers gedoen om op alle omstandighede voorbereid te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Olive ·

Stappers sonder kaart en kompas? Ai en die woef is aan julle genade oorgelaat. Toemaar ek is net so rigting bedinges.

My Mening ·

Ek het hope respek vir reddingwerkers. Hierdie mense plaas dikwels hul eie lewens in gevaar om mense te hulp te snel.
Ek is baie dankbaar dat als het goed afgeloop en dat die 3 mense en die woefeltjie gered is!

domheks ·

Ek dink die mense moet vir die reddingsoperasie begin betaal. Dan sal daar minder gevalle wees.

Karoo ·

DANKIE NRSI….. julle is altyd daar see of land. Vir die liefse van die see, en die wat reeda weg is, het ek het reeds my donasie vir 2024 gemaak.

Mariana ·

Is net Bly dat almal en die arme hond gered is en ok is…
Dis Al wat saak maak ❤️

M ·

Baie dankbaar dat hulle almal gered is !

Snaaks dat mense, ten spyte van waarskuwings, amper soos kinders ( op skool) nie luister nie … Ajaijaijaai !!!

Bolandse Nooi ·

Laat mense soos dié begin betaal vir daardie (verskriklike duur) ekskursie om hulle te red nadat hulle a.g.v. hul eie ontoereikenheid verdwaal het. Wie gaan stap uitdagende roetes sonder gids, genoeg water om vir 2 dae te hou en die een of ander nood-kommunikasie (selfoon)? Sodra mense moet begin betaal vir die dienste en instrastruktuur wat gebruik moet word om hulle te red uit situasies wat hulself veroorsaak het, sal organisasies soos die NSRI nie so swaar kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.