Vere waai tydens pluimvee-debat in parlement

Argieffoto

Die openlike vyandigheid tussen hoenderinvoerders en vervaardigers het Donderdag geïntensiveer toe albei partye mekaar blameer het vir die krisis wat deur die pluimveebedryf in die gesig gestaar word.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) en die vereniging van vleisinvoerders en –uitvoerders (Amie) het by vakbonde en staatsdepartemente aangesluit om die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid van die krisis in te lig.

Sapa voer aan die Europese Unie stort onwettig en onregverdig hoenderporsies in Suid-Afrika en indien die regering nie sou ingryp en moontlik tariewe verhoog nie, sal dit werksverliese tot gevolg hê.

“Wie trek voordeel uit die storting? Dit is baie moeilik vir ons om vir seker te weet. Dit is ʼn kombinasie van die invoerder en die handelaar. Sommige invoerders bly inderdaad in Nettletonweg – die rykste straat in Suid-Afrika,” het Kevin Lovell, uitvoerende hoof van Sapa, gesê. “Lei invoere tot werksverliese? Ons het dit duidelik bewys.”

Georg Southey, voorsitter van Amie, het egter gesê die krisis in die pluimveebedryf en moontlik gevolglike werksverliese is nie weens invoere nie. “Werksverliese kan nie gebaseer word op storting nie. Die werksverliese is gebaseer op die ondoeltreffendheid in hul bedrywighede,” het hy gesê. Volgens hom is die druk in die pluimveebedryf “deur hul eie toedoen”.

Marthinus Stander, uitvoerende hoof van Country Bird Holdings (CBH) het volgehou die bedryf “is op die randjie van ineenstorting”.

CBH, Suid-Afrika se derde grootste pluimveevervaardiger, het in Augustus verlede jaar kennis gegee dat hy sy Mahikeng-abattoir gaan sluit. Die maatskappy het die slagpale in 2006 aangeskaf toe die vorige maatskappy, Agrichicks, gelikwideer is.

“Dis ʼn baie moeilike besluit om te maak as jy besef dat jy die maatskappy, wat jy laat herleef het, se deure moet toemaak. Die rede is grootliks te wyte aan die ongekontroleerde gesubsidieerde storting van hoenderporsies in die Suid-Afrikaanse mark deur die EU,” het Stander verduidelik.

Die departement van handel en nywerheid het intussen CBH genader en versoek dat hy die sluiting van die slagpale moet opskort. Indien die abattoir sou sluit, sal dit lei tot altesaam 1 605 direkte en indirekte werksverliese. “Ek dink die stres is ondraaglik. Ek skryf ʼn maandelikse tydskrif wat aan ons werknemers versprei word, en elke keer moet ek vir hulle sê hulle moet vasbyt. En mens kan dit voel, mens kan dit sien, dis baie moeilik.”

Hy het gesê EU-invoere het sedert 2008 die hoogte ingeskiet en plaaslike vervaardigers kan nie met die volume van hoenderporsies uit Europa kompeteer nie. “Maak nie saak hoe mededingend jy is nie. Selfs al vervaardig ons ʼn hele hoender teen die goedkoopste prys in die wêreld, kan ons nie kompeteer met ʼn gestorte produk nie.”

Stander het gesê hulle het die EU in Pretoria genader om ondersoek in te stel om sy mark oop te maak aan Suid-Afrikaanse hoenderborsieporsies, maar het erken dat dit onwaarskynlik is dat hulle ooit na die EU sal uitvoer.

“Hoenderborsies is eenvoudig die kroonjuweel. Dit is die produk wat hulle drie tot ses keer duurder as donker vleis in hul eie mark kan verkoop, omdat die mark dit verkies, so hulle beskerm dit.”
Hy het gesê banke is reeds “in limbo” wat betref hulp aan die bedryf. “Jy weet wat banke doen. As die son skyn, gee hulle vir jou ʼn sambreel. Sodra dit begin reën, wil hulle die sambreel terughê.”

Stander het gesê hulle wag vir ʼn teken, iets beduidend wat wys wat die regering doen en dat die plaaslike pluimveebedryf ondersteun word.

Vakbonde het ook die regering versoek om in te gryp, maar gesê gewone Suid-Afrikaners, die privaat sektor en handelaars moet ook hul bydrae lewer. “Ons het ʼn massaveldtog nodig om Trots Suid-Afrikaans gewild te maak. Hier is ʼn goeie geleentheid om dit te laat herleef,” het Matthew Parks van die vakbondfederasie Cosatu gesê.

Parks het versoek dat afdankings dadelik opgeskort moet word en dat diegene wat reeds afgelê is, weer aangestel moet word of elders ontplooi moet word. “Daar moet ewekansige toewyding wees oor verbruikerspryse. Ons kan nie die pryse net los waar dit is nie. Handelaars se pryse is soms ten koste van die vervaardigers.”

Die Food and Allied Workers Union het aangevoer dat duisende poste nie opgeoffer moet word ter wille van “ʼn paar honderd stoorplekposte” in die invoer- en uitvoerbedryf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jennefer ·

Die huidige regering se beleid om boere te na te kom, ons voer ook eerder vrot beesvleis in van Brasilie en geblikte mensvleis van China( blykbaar net n vieslike gerug)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.