Verengelsing van UP ‘ʼn gevaar vir inheemse tale’

Een van Tuks se ikoniese geboue, “Die Skip” Foto: Mike Prins, Wikimedia Commons

Die ANC se beheptheid om Suid-Afrika te verengels is ʼn gevaarlike speletjie ten koste van ons inheemse tale.

Só meen Tammy Wessels, leier van die VF Plus-jeug. “Indien Engels die enigste medium van onderrig word, soos die afgelope week by die Universiteit van Pretoria (UP) aangekondig is, sal nie net Afrikaans in die slag bly nie, maar sal veeltaligheid toenemend in die gedrang wees.”

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het op Twitter aangedui dat hy nie saamstem met die UP se besluit nie.

“Suid-Afrika is inderdaad besig om homself in die voet te skiet met ʼn diskoers dat ʼn taal ʼn onderdrukker kan wees. Die feit dat minder Afrikaanse studente by die UP geregistreer is om in hul moedertaal bedien te word, is nie genoeg rede om Afrikaans uit die kurrikulum uit te faseer nie. Amper ʼn derde van UP-studente is Afrikaans-moedertaalsprekers,” het Wessels bygevoeg.

Die ANC vergeet dat Afrikaans die derde grootste taal in Suid-Afrika is met meer as 6.85 miljoen moedertaalsprekendes in die land.

“Die ANC is duidelik ook nie bewus van die feit dat die Verenigde Nasies se Onderwys-, Wetenskap- en Kultuurorganisasie (Unesco), moedertaalonderrig só belangrik ag dat 2019 aangekondig is as ‘Die Jaar van Internasionale Inheemse Tale’ nie. Die UP en ander universiteite is beslis nie in voeling met internasionale tendense oor taalgroepe nie.”

Wessels het bygevoeg Afrikaans het homself met trots ontwikkel tot ʼn hoërfunksie-taal, maar word toenemend deur die ANC se transformasiemodel uit instellings verwyder wat mense wil verdeel en nie saamsnoer nie. “Dit gaan hier nie werklik oor transformasie nie, maar oor ’n ANC-nasiebou-model wat nie voorsiening vir veeltaligheid maak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Niklaas ·

Ek is bly ek is nie n dosent daar nie , want lesings kan nou seker nie meer in Afrikaans gelewer word nie.

Andrew ·

Gelukkig is ons destyds meegedeel dat daar in die nuwe grondwet soveel wigte en teenwigte ingebou is, dat niks verkeerd kan gaan nie. Ongelukkig het hy nie SEB verstaan nie.

Thinus ·

Dis a.g.v ‘n slapgat en ruggraadlose UP bestuur wat die knie buig vir die EFF en Sasco en so polties korrek probeers wees om net na die ANC (grootste rassiste) se pype te dans. Dis alweer die sogenaamde geleerdes wat ons kultuur verkrag en vertrap. Julle is ‘n skandelik en ‘n teleurstelling vir julle taal en kultuur en die Afrikaans sprekende mense. Julle moet verban word om nooit weer julle voete on hierdie land te sit nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Dis nou nogal ‘n dilemma as jy nie in Afrikaans wil leer nie, en jou moedertaal het nie woorde vir Pytagoras nie…?? Dan baklei jy maar vir Ingels en hoop vir die beste…..

voetskiet ·

ons Afrikaanssprekendes skiet ons self in die voet. Gaan na enige vergadering. Daar kan 50 Afrikaanssprekendes wees en 1 enkele Engelssprekende, of dalk geen Engelssprekende, dan word daardie vergadering in Engels gelei. Wat is die rede vir dit? n Engelse vergadering sal nie in Afrikaans gelei word ter wille van 1 Afrikaanse teenwoordiger nie. Noem ons dit nou TROTS AFRIKAANS. Nee ek dink ons praat nie met n TROTSE AFRIKANER HART nie. Die Afrikaassprekende vertrap sy eie taal met hierdie soort van optrede. Miskien wil ons maar net “smart” wees of “ter wille van…” optree????? Ek was in die maand in n oorheersende Afriaanssprekende vergadering. Voorsitter was Afrikaans maar vergadering was in Engels. Selfs n Afrikaanse vraag was deur voorsitter in Engels beantwoord.

Deon ·

Voetskiet, dalk is dit tyd vir Afrikaners uit die korporatiewe sektor en openbare sektor te ontrek. Afrikaners moet weer ondernemings van die grond af opbou. Dit is harde werk, maar kan gedoen word. Daar is baie besigheid in Afrika met lande wie se BBPS teen 8 tot 10% per jaar groei, en daar word nie teen Afrikaners gediskrimineer nie. Korporatiewe hookantore kan in Mauritius gevestig word, met ‘n belastingkoers van 15%.Tito Mboweni besef dit is ‘n scenario wat wel kan uitspeel.

Arie ·

Lyk my ons Afrikaners het net handoek in gegooi, dankie tog vir Afri forum

Jerry ·

Die Afrikaner se taalstryd en stryd oor die algemeen, teen n veelrassige ANC revolusionere aanslag, plaas die Afrikaner in n uiters swak en kwesbare posisie. Ons moet die Afrikaner se teenaanslag teen die revolusioneres drasties aanpas na n anti revolusionere aanslag wat ook alle rasse insluit. Die revolusionere idees van die ANC/EFF moet teengestaan word met anti revolusionere idees wat alle anti revolusioneres welgeval. Dit is die enigste manier om die magswanbalans in SA te herstel en om alle anti revolusioners se regte te beskerm. Sodoende beskerm die Afrikaner ook sy eie regte. Tans slaag sekere Afrikaner organisasies daarin om hulle belange uit te brei en te beskerm, terwyl Afrikanerregte oor die algemeen, toenemend die onderspit delf! Dit gaan n totale anti revolusionere stryd verg om in die toekoms die regbank onafhanklik te hou en wat sekerlik die belangrikste stryd is wat gestry moet word, want daarsonder is dit koebaai Meraai vir alle regte en belange! Dit sou uiters dwaas wees van die Afrikaner indien hy nie aanpassings maak nie en sou voortgaan om eie belang bo alles anders te stel.

Deon ·

Jerry, die VF+ reik wel uit na bruin gemeenskappe. Daar is immers ‘n taal verwantskap.

Gert ·

Die groot probleem is dat baie Afrikaners ook inkoop in “transformasie”. Alles word altyd getroef deur die ANC se doel van Verteenwoordigendheid. Universiteite voer dus telkens aan dat hulle verengels ter wille van transformasie. Daar was vandag weer in Rapport se briewe-afdeling ‘n Afrikaner wat skryf dat hy voel Afrikaanse skole moet “opgeoffer” word ter wille van Transformasie. Dit skok my dat niemand hierdie siek filosofie in die minste bevraagteken nie. Perfekte integrasie van alle groepe in Suid-Afrika is nie die utopia wat die ANC vir ons probeer voorhou nie, inteendeel, dis die einde van hierdie ekonomie. My droom is dat mede-Afrikaners die insig kan ontwikkel dat transformasie nie die oplossing van ons probleme is nie, maar die oorsaak.

Wim Kotze ·

Ja, “Engels, Engels alles Engels,,,” nè? In ons “demokrasie” is die meerderheid mos altyd reg.

Johan ·

Net nog ‘n klein lek plekkie in ‘n reuse damwal wat gaan breek…

A Mac ·

Kan dit nou as taalsisties beskou word met die dat net Engels nou die voertaal gaan wees want hulle diskrimineer nou teen ander tale?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.