Vereniging eis ondersoek na OB-kantoor oor ‘wanbestuur’

Die kantoor van die Openbare Beskermer in Pretoria. (Foto: Openbare Beskermer)

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) eis ʼn ondersoek na beweerde wanbestuur by die kantoor van die Openbare Beskermer (OB), wie se plig dit is om wangedrag by staatsinstellings te ondersoek.

“Die VSA is bekommerd oor die onlangse vlaag skorsings en afdankings van senior amptenare en ondersoekers. Die VSA het vantevore al die onreëlmatige aanstelling van die uitvoerende hoof, Vussy Mahlangu, veroordeel. Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het hom in die pad gesteek voordat hy by die kantoor van die OB aangesluit het,” het Tahir Maepa, woordvoerder van die VSA, gesê.

Maepa sê die advertensie vir die pos het dit duidelik gestel dat die suksesvolle kandidaat sekerheidsklaring moet hê. Weens sy afdanking by ʼn ander staatsdepartement het Mahlangu egter steeds nie dié klaring nie.

Die personeel wat hy bestuur, het wél sekerheidsklaring.

Die vakbond het Thandi Modise, speaker van die parlement, nou gevra om ondersoek na die beweerde wanbestuur te doen.

Die VSA sê die OB, adv. Busisiwe Mkhwebane, moet sê of Mahlangu dit duidelik in sy CV of tydens werksonderhoude gemaak het dat hy voorheen weens wangedrag – wat met oneerlikheid verband gehou het – uit die staatsdiens ontslaan is.

“Indien nie, moet die OB sê of sy voor sy [Mahlangu se] aanstelling van sy dissiplinêre rekord geweet het,” het Maepa gesê.

Die VSA sê indien Mkhwebane dit wel geweet het, moet sy kan regverdig waarom Mahlangu steeds aangestel is, terwyl die pos duidelik iemand met integriteit vereis.

Die vereniging het dié vrae al heelwat vroeër aan die OB se kantoor gestel en teen 18 Desember antwoorde geëis. Die OB het ontvangs van die vrae erken, maar gevra om teen 13 Januarie daarop te beantwoord.

“Dit het nou geblyk dat Mahlangu bedank het by die kantoor van die OB sónder dat hy verantwoording moes doen vir sy wanbestuur en verwydering van werkers. Die VSA is bekommerd oor die gebruik dat senior beamptes bedank sonder om enigsins vir hul optrede verantwoording te doen,” het Maepa gesê.

“Dit is die mening van die VSA dat sulke bedankings nié aanvaar moet word voordat werkers verantwoordelik gehou is nie.”

Mkhwebane het Mahlangu ná sy bedanking “om ander geleenthede te ondersoek” die beste toegewens en gesê sy het sy bedanking met ʼn swaar hart aanvaar.

“Mnr. Mahlangu se bydrae is prysenswaardig. Hy het stabiliteit in die instelling bewerkstellig deur verskillende bestuurskomitees wat verantwoordelik was vir die uitvoering van besluite wat tot beter prestasie gelei het. Daar is merkbare vordering gemaak in ons strewe om ʼn skoon oudit te bewerkstellig en hy het geweldig daartoe bygedra,” het Mkwebane verlede week gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Ag asb as daar nou eending is wat julle ANC baie goed kan doen dan is dit om ons dom belastingbetalers se geld te plunder julle maak n mens siek

Suzette Geringer ·

mkwebane yl! Duidelik dink sy haar bydrae is ook prysenswaardig. Elke dag is daar net nog bewyse van hoe vrot ek korrup die ANC is.

Doris ·

Ek weet nie of n mens daardie antwoord wat gegee gaan word, kan vertrou of aanvaar nie .Deesdae gaan dit maar baie korrup met mense wat ons moet vertrou wat jy nie meer kan vertrou nie. Dankie vir die mense wat hulle so dop hou vir julle wakker optrede ons het julle nodig.

Jack Sadie ·

Een van n die vereistes vir bevordering/ aanstelling in die sge ‘staatsdiens’ is dan juis dat jy
by ‘n ander departement moes loop!

Marous ·

Korrup van onder tot heel bo…en dit geld vir almal wat net een doel het en dit is om belasting betalers se geld te verorber. Te lui en te oneerlik om ‘n eerbare bestaan te voer. Dit is die waarheid.

JJ ·

is daar nie n manier om belasting geld iewers in tebetaal en so die ANC dwing om hul onkundegis af tedank nie

Susan ·

Ministers is net uit die amp. Hul moet nog steeds verantwoordelik gehou word vir dit wat hulle oortree het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.