Pres. Cyril Ramaphosa het hom Vrydag weer daartoe verbind om die goeie aansien wat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) in die internasionale finansiële gemeenskap en markte geniet, te beskerm.
Dít volg te midde van Ramaphosa se vergadering met die SARB se raad by die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis in Pretoria.
Die presidensie het gesê die vergadering is byeengeroep om die vakatures in die uitvoerende leierskap van die SARB te bespreek. David Masondo, adjunkminister van finansies, verteenwoordigers van die nie-uitvoerende komponent van die SARB se raad asook die president van die bank het ook die vergadering bygewoon.
Die vakatures het ontstaan nadat Francois Groepe, adjunkpresident van die bank, in Januarie vanjaar bedank het. Om sake te vererger verstryk Daniel Mminele se termyn as adjunkpresident aan die einde van die maand en Lesetja Kganyago se termyn as president in November.
Volgens die Reserwebankwet word dié bank deur ’n direksie van 15 direkteure bestuur, met inbegrip van die president, drie adjunkpresidente en drie ander direkteure, almal deur die president van die land aangestel na oorlegpleging met die minister van finansies en die direksie.
Ramaphosa het hom tydens die vergadering daartoe verbind om nuwe direkteure van ’n hoë kaliber aan te stel wat die waarde wat die land aan die SARB heg, besef.
Die presidensie het gesê Ramaphosa sal aandag aan die raad se aanbevelings gee.
O hemel. Laat ons bid dit is nie nog kader ontplooing nie
Die a en see se begrip van “hoe kaliber” het in die Verlede veel te wense oorgelaat. Ek WENS dus CR kry dit reg!!??