‘Vergadering met Guptas was onskuldig’

Ben Martins, adjunkminister van openbare ondernemings. Foto: ANA

Ben Martins, adjunkminister van openbare ondernemings, het Woensdag aan die parlementêre ondersoek na Eskom gesê dat Tony Gupta gedreig het met regstappe, sou hy weier om die tenderproses vir nuwe treine van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) omver te gooi.

Martins het toegegee dat hy jare lank met die Gupta-familie geskakel het, maar beweer dat ʼn vergadering wat hy tussen Tony Gupta en Lucky Montana, die destydse uitvoerende hoof van Prasa, gereël het slegs ten doel gehad het om eise dat die tenderproses heropen moet word, en die raad van Prasa verander moet word om dít te fasiliteer, af te raai.

“Ek het vir hom gesê ek het verneem die tenderproses het sy gang gegaan,” was volgens Martins sy antwoord op die Guptas se benadering.

Martins, wat in hierdie tyd minister van vervoer was, het gesê hy het toe ʼn vergadering met Montana gereël en dat Gupta en Duduzane Zuma, pres. Jacob Zuma se seun, later by hulle aangesluit het.

Hy het hard probeer om te verduidelik dat die Gupta-familie destyds slegs gemiddelde sakemanne was en nog nie in die publieke oog “die vergestalting van korrupsie” was wat miljarde rande verkry het deur beweerde onwettige handelinge met staatsinstellings nie.

Martins het gesê hy het die vergadering gereël sodat Tony Gupta by Montana kon hoor dat die tenderproses inderdaad afgehandel en regverdig was sodat hy sy dreigement van regstappe kon heroorweeg.

“Ek het niks verkeerd daarin gesien om die vergadering te reël nie omdat die mikpunt was om duidelikheid te gee en antwoorde te verskaf. Ek het in geen stadium vir Montana gevra om enigiets onregmatig of onwettig te beïnvloed nie,” het hy gesê.

Montana het egter Dinsdag aan die ondersoekkomitee gesê hy is verras oor Martins se sterk bewoorde ontkenning van die getuienis van Suzanne Daniels, geskorste hoof van regsdienste by Eskom, wat hom direk met die Gupta-broers verbind.

Montana het ook Dinsdag aan die komitee gesê na sy mening is daar waarheid in die wydverspreide persepsie dat die Gupta-familie die land se staatsentiteite op groot skaal by korrupsie betrek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Besorg ·

Nee een amptenaar van die huidige regering, vanaf munisipale vlak tot by Zuma self, is onskuldig nie. In murg en been korrup.

Lou ·

En nou kom die grootskaalse ontkenning en vingerwysing………

Jacques Venter ·

Ek is so bly daar is nog sulke edel mense met bomenslike edel motiewe.

Patriotte van formaat, wat deurgans die belange van die land op die hart dra

Andre ·

Die Guptas was nog nooit “gemiddelde sakemanne” nie. Hulle het hier aangekom en in Johannesburg skoene uit ‘n motor verkoop. Daarna het hul soos ‘n vuurpyl opgeskiet en oornag miljarde deur korrupsie gekry. Sakemanne se voet; so skelm soos die nag ja.

lekker ne ·

“dis regtig nie wat jy dink nie! Elke een wat betrap word se woorde

Alida ·

Die skelm Guptas het ryk geword met ONS geld met JZ en sy disipels se hulp natuurlik.

PJC ·

Die geskarrel raak al hoe groter. Hoop hulle rook uiteindelik die hele spul uit.

John ·

‘n Storieboek kan een van die dae die lig sien. Die parlement word ‘n teater vir opvoerings wat opstanders se verbeelding behoorlik toets. Die Gupta-paleis vorm die agtergrond van die stel en in die verte loop bokke rustig langs die brandpunt vol troebel water. Gister nog was daar ‘n storm met blitse en donder wat parlementariers tot multimiljoeners onkant gevang en na onderdak laat skarrel het. Weelde en drome van luukse en planne rondom miljarde laat die toeskouers swymel in ‘n poging om al die skatte saam te tel in die patetiese en armoedige droe plakker-geweste in die Kaap van Storms, terwyl die vals note van die vreemde simfonie in die agtergrond op ongestemde instrumente voortstu… terwyl Van Donk in die verte, heel rustig, sy dagga-pypie stop…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.