Vergadering oor toerismefonds vrugteloos

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die departement van toerisme het tog besluit om voort te gaan met die toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) wat beoog om slegs finansiering aan toerismeondernemings wat aan swart mense behoort te verskaf. Dit ten spyte van heftige teenkanting van AfriForum en Solidariteit.

Dié organisasies sê nou hulle het “geen ander keuse” as om voort te gaan met regsaksie om die fonds in sy spore te probeer stuit nie.

Die departement en organisasies het Maandag vergader oor die TEF nadat Solidariteit en AfriForum ʼn regsbrief aan die departement gestuur het waarin hulle eis dat die inwerkingstelling van die fonds gestop word. Die vergadering was egter vrugteloos.

“Daar is geen toegewings gemaak of enigsins voorgehou van hulle kant af nie. Nadat ons tallose voorstelle en verskeie uiteensettings oor die gevolge en implikasies van hul optrede aan hulle voorgelê het, het hulle bloot net hul aanvanklike posisie bekragtig en ons motiewe bevraagteken,” sê Morné Malan, kommunikasiehoof van Solidariteit.

Volgens Malan was dit reeds taamlik vroeg in die gesprek duidelik dat die departement nie deur enige feite of beredenering geswaai kon word nie. “Die departement was vasberade om voort te gaan op die ingeslane weg ongeag wat die gevolge daarvan sou wees.”

Solidariteit en AfriForum voer nou aan dat die departement duidelik nooit die bedoeling gehad het om werklik in gesprek te tree en idees uit te ruil nie, maar in werklikheid bloot sy eie standpunt wou verdedig. Die organisasies sê die departement het dus die vergadering in kwade trou belê en bestuur.

Hlengiwe Nhlabathi-Mokota, woordvoerder van die minister van toerisme, sê egter in ’n verklaring die doel van die vergadering was om AfriForum en Solidariteit te betrek in ʼn poging om te luister en die basis van hul teenkanting teen die fonds vas te stel.

Argieffoto ter illustrasie van toerisme. (Foto: Love South Africa/Facebook)

Nhlabathi-Mokota bevestig dat die organisasies die wettigheid, moraliteit en transformerende uitkoms van die kwalifikasiekriteria vir die fonds tydens die vergadering bevraagteken het.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, sê op haar beurt haar departement het die verantwoordelikheid om met soveel moontlik belanghebbendes en rolspelers in die land se toerismesektor in gesprek te tree sodat die departement die denke agter die regering se beleidskeuses kan opklaar. “Ons glo dat diegene wat die geskiedenis van hierdie land ken en verstaan, min oortuiging nodig het dat regstelling ʼn noodsaaklike meganisme is vir die opbou van ʼn nie-rassige samelewing, soos deur die Grondwet bepaal. Ons uiteindelike doel as regering is om te verseker dat ons ons visie om vinnig en inklusief te bou, suksesvol kan implementeer.”

“Ons het dit aan Solidariteit en AfriForum gekommunikeer dat die TEF ʼn noodsaaklike ingryping is vir die skep van ʼn inklusiewe toerisme-ekonomie waarin voorheen benadeelde individue, insluitend jong mense en vroue, verteenwoordig word en aktief kan deelneem aan eienaarskap en beheer.

“Hierdie fonds sal ons gesamentlike pogings tot ekonomiese herstel en heropbou ondersteun, sodat ons die nalatenskap van kolonialisme en apartheid kan uitwis, ” het die minister gesê.

Dirk Hermann. (Foto: Rozier van Tonder/Okay Deer.)

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het by navraag aan Maroela Media gesê dit is skrikwekkend dat die regering só “rasobsessief” kan wees dat hulle in tyd van nood ras as kriteria gebruik. Hy bestempel dit as nóg ’n laagtepunt vir die regering se rasideologie.

“Solidariteit en AfriForum is van mening dat dit in ’n tyd soos dié [van die Covid-19-pandemie] totaal immoreel sal wees om ras te gebruik tydens ʼn krisis waar almal ewe hard getref is ongeag van ras. Daar kan geen morele regverdiging wees vir raskriteria nie,” meen Hermann.

Hy sê ondernemings se behoefte moet die maatstaf wees en nié ras nie.

Monique Taute, hoof van veldtogte by AfriForum, sê dit is duidelik dat die minister nié die belange van al die verskillende gemeenskappe op die hart dra nie. “In plaas daarvan dat haar departement ʼn hand uitreik na ondernemings wat sukkel, misbruik die departement nou die situasie deur dit as geleentheid te gebruik om sy rasgedrewe doelstellings te bevorder.

“Toerisme-ondernemings wat deur lede van minderheidsgemeenskappe besit word, het, net soos alle ander klein toerisme-ondernemings, dringend hulp nodig. Talle ondernemings moes al hul deure sluit ná die regering se streng Covid-19-beperkings. Dit is immoreel van die regering om nou reddingsboeie te gebruik om die mense op die wal te help, terwyl duisende ander besig is om te verdrink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Heinrich

Daar’s hy Solidariteit, gaan gee hulle maar gas. Daar is niemand so blind soos hy wat nie wil sien nie.

RS

Dink dis tyd dat ons wit mense ook gelykheids hof toe gaan oor dit. Dit is rasisme. Dit is juis waarteen almal veg, maar duidelik word dit steeds aangevuur deur die eie ANC regering. EK NEEM AANSTOOT!

JohanEtz

Covid-19 word in SA as hefboom misbruik om alle doelwitte wat nie andersins deur die regering behaal kon word nie – nou mee af te forseer!

Persheks Adri

Help die reeds bestaande besighede wat weet hoe dit werk nou wil julle amateurs help wat GEEN benul het wat aan gaan nie! Is dit so moeilik om dit self uit te dink? Plein rassisties man

Jakes

Die rassistiese aanslag en benadering van die ANC tov die toerisme bedryf is veelseggend. Die kans op sukses daarvan sal soos gewoonlik n ronde nul wees soos meeste van hul projekte oor dekades al bewys het.