Vergaderings oor inperkingsmaatreëls: Dié kwessies verdeel

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die heropening van skole, die omstandighede waaronder alkoholverkope eersdaags hervat kan word (indien hoegenaamd) en of verskillende inperkingsmaatreëls in verskillende provinsies kan geld, is van die kwessies wat oorweeg word voor pres. Cyril Ramaphosa die land die week weer sal toespreek.

Die verwagting is dat Ramaphosa Maandag of Dinsdag weer die land sal toespreek te midde van ’n klemverskuiwing binne die ANC om meer klem op ekonomiese welsyn en persoonlike verantwoordelikheid te plaas, en minder op die staatsvoorskriftelikheid van die aanvanklike grendelstaat.

Verdeeldheid in die ANC en die Suid-Afrikaanse samelewing sowel as tussen die koronavirus-toestande in die onderskeie provinsies beteken onmin oor die stappe wat gedoen moet word in die afspeel van ekonomiese welvaart teen lewensverlies.

Ramaphosa het Sondag vergaderings met onder meer kerkgroepe en die provinsiale premiers gehou, en na verstaan word, is ook met tradisionele leiers geraadpleeg.

Anders as in die verlede word daar nou in die ANC groter klem op die belang van die ekonomie geplaas. Die nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, het Sondag in ’n TV-onderhoud male sonder tal die belang van die ekonomie beklemtoon, en verlede week het Nomvula Mokonyane, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en voormalige Gautengse premier, gesê die NUK is om ekonomiese redes teen die herinstel van strawwe inperkingsmaatreëls.

Daar is ook groter burgerlike teenstand teen inperkingsmaatreëls. Beeldmateriaal het hierdie naweek gesirkuleer van kerkbyeenkomste en tradisionele verwelkomings na besnydenisseremonies waar die regulasies oor samedromming nie eerbiedig word nie, met mense – ook bejaarde kerkgangers – wat in hegtenis geneem en agter in vangwaens gedwing word.

Die grootste kopseer vir die regering in die soeke na die noodwendig ontwykende ideaal om ’n balans tussen ekonomiese oorlewing en fisieke oorlewing te vind, is dat die situasie in provinsies asook binne die veelgeroemde distriksraad-model so verskil.

Dit wil uit die huidige statistiek voorkom asof die Wes-Kaap (met die moontlike uitsondering van die Weskus) oor die ergste van die tweede golf infeksies is. Dit kan dus verwag word dat die Wes-Kaapse regering by monde van premier Alan Winde, soos in die verlede, baie hard sal druk dat die ekonomie so oop en funksionerend moontlik bly – en dat die Wes-Kaap nie ekonomies erger ingeperk moet word as enige ander provinsie nie.

Wat die Oos-Kaap betref is koronavirus-infeksiesyfers baie onbetroubaar, terwyl KwaZulu-Natal in die middel van die tweede golf is en die situasie in Gauteng en Limpopo vinnig verswak.

Foto: SAPD/Facebook

In die kabinet blyk daar twee denkgroepe te wees. Die een denkgroep meen dit sal beter wees om verskillende maatreëls vir verskillende provinsies en distrikte in te stel, terwyl die ander denkgroep meen dit voorkom verwarring as die hele land een stel reëls volg.

Soos Maroela Media al verskeie kere tevore berig het, is daar sterk regsmenings dat ’n provinsie nie strenger ingeperk kan word as ander provinsies sonder daardie provinsie se instemming nie.

Een van die groot strydpunte word verwag om te wentel oor wanneer skole gaan heropen. Sommige provinsies en belangegroepe wil hê dat die skooljaar met minimum ontwrigting moet voortgaan soos geskeduleer, terwyl ander provinsies en belangegroepe wil hê die skoolkwartaal moet uitgestel word.

’n Ander tameletjie kan meningsverskil oor alkoholverkope wees. Die huidige verbod op alkoholverkope het ’n groot vermindering van druk op hospitale se ongevalle tot gevolg gehad.

Om daardie rede kon mediese personeel ten beste optree om die toename in koronavirusgevalle te hanteer, wat oor die algemeen deur mense verstaan en ondersteun is – ook omdat aangekondig is die verbod op alkoholhandel sal slegs tot 15 Januarie geld.

Daar is egter nou ’n groep wat alkoholverkope wil bly verban en ’n ander groep wat uitwys die vakansie is verby en mense moet weer terugkeer werk toe, so alkoholverkope tussen Maandag en Donderdag behoort nie groot druk op hospitale se ongevalle-eenhede te plaas nie.

Oor al hierdie dinge is meningsverskille en die uiteindelike besluite sal deur Ramaphosa as staatshoof aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Kom Genis julle meedeel… daar word baie drank verkoop, net nie uit winkels nie.. Mense maak geld soos bossies…

Wonder net

Die kwartaal skrap? Wat gebeur dan as kinders on maart terug gaan skool toe? Sit ons dan weer waar ons n jaar terug was met n lockdown en winter om die draai. As al die mense net die reels toepas wat daar gestel is sal dit klaar soveel makliker gaan.

susan

Lyk my dat slegs sekere gelowe moet gehoor gee aan die inperkings reëls met betreking tot geloofsbyeenkomste. In ‘n regverdige demokratiese land is daar duidelik baie onenigheid.

Louis

Wanneer gaan Cele n bietjie in die bek geruk word? Hy maak en breek nes hy wil

Casper

Die staat sit met ‘n klomp skuld.As die ekonomie ingeperk word gaan baie dinge skeefloop.Werkloosheid gaan veroorsaak dat mense gevoed moet word,munisipale rekeninge kan nie betaal word nie dan kan dienste nie gelewer word nie.As jy drank koop en by jou huis drink is dit veilig.Die virus versprei by taverns en sjebiens en dit is waar moleste en geweld plaasvind wat ongevalle teweegbring.Maak die taverns en sjebiens toe,drank is daar duurder as in die bottelstore.