Vergaderings oor inperkingsmaatreëls: Dié kwessies verdeel

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die heropening van skole, die omstandighede waaronder alkoholverkope eersdaags hervat kan word (indien hoegenaamd) en of verskillende inperkingsmaatreëls in verskillende provinsies kan geld, is van die kwessies wat oorweeg word voor pres. Cyril Ramaphosa die land die week weer sal toespreek.

Die verwagting is dat Ramaphosa Maandag of Dinsdag weer die land sal toespreek te midde van ’n klemverskuiwing binne die ANC om meer klem op ekonomiese welsyn en persoonlike verantwoordelikheid te plaas, en minder op die staatsvoorskriftelikheid van die aanvanklike grendelstaat.

Verdeeldheid in die ANC en die Suid-Afrikaanse samelewing sowel as tussen die koronavirus-toestande in die onderskeie provinsies beteken onmin oor die stappe wat gedoen moet word in die afspeel van ekonomiese welvaart teen lewensverlies.

Ramaphosa het Sondag vergaderings met onder meer kerkgroepe en die provinsiale premiers gehou, en na verstaan word, is ook met tradisionele leiers geraadpleeg.

Anders as in die verlede word daar nou in die ANC groter klem op die belang van die ekonomie geplaas. Die nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, het Sondag in ’n TV-onderhoud male sonder tal die belang van die ekonomie beklemtoon, en verlede week het Nomvula Mokonyane, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en voormalige Gautengse premier, gesê die NUK is om ekonomiese redes teen die herinstel van strawwe inperkingsmaatreëls.

Daar is ook groter burgerlike teenstand teen inperkingsmaatreëls. Beeldmateriaal het hierdie naweek gesirkuleer van kerkbyeenkomste en tradisionele verwelkomings na besnydenisseremonies waar die regulasies oor samedromming nie eerbiedig word nie, met mense – ook bejaarde kerkgangers – wat in hegtenis geneem en agter in vangwaens gedwing word.

Die grootste kopseer vir die regering in die soeke na die noodwendig ontwykende ideaal om ’n balans tussen ekonomiese oorlewing en fisieke oorlewing te vind, is dat die situasie in provinsies asook binne die veelgeroemde distriksraad-model so verskil.

Dit wil uit die huidige statistiek voorkom asof die Wes-Kaap (met die moontlike uitsondering van die Weskus) oor die ergste van die tweede golf infeksies is. Dit kan dus verwag word dat die Wes-Kaapse regering by monde van premier Alan Winde, soos in die verlede, baie hard sal druk dat die ekonomie so oop en funksionerend moontlik bly – en dat die Wes-Kaap nie ekonomies erger ingeperk moet word as enige ander provinsie nie.

Wat die Oos-Kaap betref is koronavirus-infeksiesyfers baie onbetroubaar, terwyl KwaZulu-Natal in die middel van die tweede golf is en die situasie in Gauteng en Limpopo vinnig verswak.

Foto: SAPD/Facebook

In die kabinet blyk daar twee denkgroepe te wees. Die een denkgroep meen dit sal beter wees om verskillende maatreëls vir verskillende provinsies en distrikte in te stel, terwyl die ander denkgroep meen dit voorkom verwarring as die hele land een stel reëls volg.

Soos Maroela Media al verskeie kere tevore berig het, is daar sterk regsmenings dat ’n provinsie nie strenger ingeperk kan word as ander provinsies sonder daardie provinsie se instemming nie.

Een van die groot strydpunte word verwag om te wentel oor wanneer skole gaan heropen. Sommige provinsies en belangegroepe wil hê dat die skooljaar met minimum ontwrigting moet voortgaan soos geskeduleer, terwyl ander provinsies en belangegroepe wil hê die skoolkwartaal moet uitgestel word.

’n Ander tameletjie kan meningsverskil oor alkoholverkope wees. Die huidige verbod op alkoholverkope het ’n groot vermindering van druk op hospitale se ongevalle tot gevolg gehad.

Om daardie rede kon mediese personeel ten beste optree om die toename in koronavirusgevalle te hanteer, wat oor die algemeen deur mense verstaan en ondersteun is – ook omdat aangekondig is die verbod op alkoholhandel sal slegs tot 15 Januarie geld.

Daar is egter nou ’n groep wat alkoholverkope wil bly verban en ’n ander groep wat uitwys die vakansie is verby en mense moet weer terugkeer werk toe, so alkoholverkope tussen Maandag en Donderdag behoort nie groot druk op hospitale se ongevalle-eenhede te plaas nie.

Oor al hierdie dinge is meningsverskille en die uiteindelike besluite sal deur Ramaphosa as staatshoof aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Genis ·

Kom Genis julle meedeel… daar word baie drank verkoop, net nie uit winkels nie.. Mense maak geld soos bossies…

Wonder net ·

Die kwartaal skrap? Wat gebeur dan as kinders on maart terug gaan skool toe? Sit ons dan weer waar ons n jaar terug was met n lockdown en winter om die draai. As al die mense net die reels toepas wat daar gestel is sal dit klaar soveel makliker gaan.

susan ·

Lyk my dat slegs sekere gelowe moet gehoor gee aan die inperkings reëls met betreking tot geloofsbyeenkomste. In ‘n regverdige demokratiese land is daar duidelik baie onenigheid.

Louis ·

Wanneer gaan Cele n bietjie in die bek geruk word? Hy maak en breek nes hy wil

Casper ·

Die staat sit met ‘n klomp skuld.As die ekonomie ingeperk word gaan baie dinge skeefloop.Werkloosheid gaan veroorsaak dat mense gevoed moet word,munisipale rekeninge kan nie betaal word nie dan kan dienste nie gelewer word nie.As jy drank koop en by jou huis drink is dit veilig.Die virus versprei by taverns en sjebiens en dit is waar moleste en geweld plaasvind wat ongevalle teweegbring.Maak die taverns en sjebiens toe,drank is daar duurder as in die bottelstore.

Casper ·

Soos Genis tereg sê miljoene rand se drank word op die swartmark verkoop en mense raak skatryk.By one kos ‘n bottel whiskey R 800 en brannas R 600.Bier kos R500 ‘n kas.dit is belaglik maar die mense betaal dit.

Rooijan ·

Verander die oggend tyd van die aandklok reël van ses na vyf. Laat drankverkope toe maar slegs maandae tot Donderdae, 9 tot 6. Moet nie weer karring met sigarette nie dit het geen voordelige uitwerking behalwe om van nikotien verslaafdes kriminele te maak nie. Laat die privaat sektor toe om self te onderhandel vir entstowwe, dit sal meer kos maar die wat kan sal vir hulself sorg en sodoende die druk van die staat afhaal.

koei ·

Ja, ek verstaan in die rooi gebiede om die kinders te beskerm, maar dit gaan nie vir altyd werk nie. As die mense net almal vir luister. Ja, die rooi gebiede moet ingeperk word, nie die ander dele van die land nie, veral met drank, en die argumente omtrent die drank maak nie altyd sin nie. Hou die curfew tye, dan drink die mense by hulle huise, dan mag jy mos nou nie iewers heen gaan tussen 9 saans en soggend 6 uur nie. Ek stem vir die verkoop van alkohol soos wat dit was, want dit het sy voordele gehad. Daar is groot plekke wat nou al gevou het met hierdie partykeer belaglike instellings. Cyril moet praat en klaar kry, hy is die president, hy is die een van die finale sê het, maar dit wil voorkom of iemand iets op hom het, dis hoekom hy so ge-over write word!

Persheks Adri ·

Cyril ons is nie kinders nie nog minder dom. Jy kan ons nie vir altyd in ons huise toe sluit nie! Julle plunder nog verder. Los net my sigarette uit ok!!! Kopdoek en haar kinders gaan beslis nog lekker geld maak gggmmmfff. Jou redenasies maak nie sin nie eish

Persheks Adri ·

Ek was sarkasties gewees. Ons weet mos hulle kan nie logiese denkwyse toe pas nie

Jakes ·

Jammer dat n mens jou eerste kommentaar van die nuwe jaar op n negatiewe noot moet begin. Die regering talm op een of ander wyse om die entstof te bekom. CR kan inperkings implementeer tot hy blou is in die gesig maar dit sal nie die virus uithou of beveg nie. Buitendien pas net sekere groeperings die maatreels toe. En so duur die sirkus voort.

JohanR ·

Hou tog asseblief op om te vergader! Jy is die leier…..hoop maar soe….soe maak ‘n besluit op jou eie ou. Wat gaan/kan kerk ministers aan die saak doen? Jy sal nog vergader dan is Covid-19.3 hier!

Deon ·

Hulle praat oor verligting vir ongevalle omdat daar ‘n dranvebod is. Wat van die R500 miljoen wat gespandeer is op ‘n hospitaal in Kemptonpark wat steeds nie klaar is nie en vir Covid ge-oormerk was, of so verstaan ek. Ramaphosa het aan die begin van Covid gese daar sal geen bedrog plaasvind met die donasies van ander lande en instellings nie. Nou se hy ons ondersoek die bedrog klagtes. Magtig, hy kan nie eens Zuma se bedrog miloene terugkry nie wat van die Covid s’n. Intussentyd is daar nog Narre in die ANC wat glo dat ongewenste drank handel nie alreeds plaasvind nie terwyl die land miljoene se skade ly aan verlore belasting en mense wat in die dranhandel werk, hulle werk verloor. Man ek wens ek kon my kop sover in my agterent indruk om die land uit hulle oogpunt te sien.

Adam Adriaan ·

Daardie Corona raad waarvan gepraat word en gereeld vergader, wil vir my voorkom asof dit ‘n klomp grafstene is wat gereeld in ‘n kerkhof bymekaarkom om hulle lot te bespreek. Daar kom elke slag geen sinvol besluite uit die gesprekvoering nie. Dit is niks minder, om dit as tragies te beskryf, dat die sg regering op so ‘n vlak redeneer en besluite neem.

Jannie van Niekerk ·

Die buitelanders wat winkels het, het tydens die vorige inperking drank en sigarette verkoop en die ANC goeddgesinde polisie en verkeersbeamptes was hulle grootste kliënte. Wie of wat gaan hulle (die buitelanders) mkeer om dit weer et doen? Beslis nie die ANC wat die blanke Suid Afrikaanse Besighede wil vernietig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.