Vergiftigde Jugomaro-katte begrawe

Elvis en Kai. Foto: Via Facebook

Nagenoeg 100 mense het Sondag die Jugomaro Predator Park naby Vaalwater in Limpopo besoek om vier geliefde skaars groot katte te begrawe wat Vrydag op hul nuwe wildplaas vergiftig is om vermoedelik vir moetie geslag te word.

Justin Fernandes, wat saam met sy ma, Rosa, en pa, Goosey Fernandes, die park besit en die diere van kleins af met die hand grootgemaak het, het die geleentheid gelei.

Die drie leeus en een tier is in vier groot grafte geplaas wat op ʼn spesiale gedeelte van die wildplaas gegrawe is sodat hul nalatenskap onthou kan word.

Justin het aangedui dat die katte se karkasse in die grafte verbrand gaan word sodat diegene wat hulle vergiftig het, nie kan terugkeer en hul liggaamsdele verwyder nie.

Maroela Media het Vrydag berig die katte is skaars twee weke gelede na hul nuwe wildplaas naby Vaalwater geskuif nadat die vorige wildplaas naby Groblersdal gelikwideer is.

“Teen 01:30 hoor ons ons wolf onophoudelik huil, wat hy nooit doen nie. Ek en Justin het gaan ondersoek instel en by Elvis, ons witleeu, en Kai, ons goue tiermannetjie, se kamp gesien Elvis lê by die hek. Daar het skuim uit sy bek gekom. Hy het soveel pyn gehad dat hy die groot staalhek gebyt het dat dit buig,” het ʼn emosionele Rosa aan Maroela Media gesê.

Hercules en Taariq. Foto: Via Facebook

Kai het net stil gelê en nie asemgehaal nie. Justin het dadelik besef die katte is vergiftig. Hy het mond-tot-mond-asemhaling op Elvis, wat toe nog gelewe het, toegepas terwyl Rosa op Elvis se hart gedruk het in ʼn poging om hom aan die lewe te hou. Dit was tevergeefs.

“Terwyl ons besig was, het ons ons twee bruinleeumannetjies, Hercules en Taariq, in die kamp langs Elvis sʼn van pyn hoor grom. Ons het probeer om vir hulle steenkool in te gee terwyl ons gewag het vir ʼn veearts om van Bela-Bela af te kom, maar hulle wou niks eet nie en het later gesterf.”

Rosa het gesê in albei kampe is stukke vleis, waaronder lewer, haas en derms, met die gif Temic, ook bekend as Two Step, gevind. Dit was aan die heinings gehang, het in die kampe gelê en die vleis is ook deur die katte opgebring.

Die booswigte het toegang tot die wildplaas deur die heining verkry. Hulle is vermoedelik onderbreek voor hulle enige liggaamsdele van die diere kon verwyder en het met leë hande op vlug geslaan.

“Ons vermoed ons geliefde katte is vergiftig om vir moetie geslag te word. Al waaroor ons bly is, is dat geen liggaamsdele geslag is nie. Ons gaan hulle nou op ʼn spesiale plek in die park begrawe,” het Rosa destyds gesê.

Die Vaalwater-polisie is na die toneel ontbied en ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging is aanhangig gemaak.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het die onwettige stropery van beskermde spesies ten sterkste veroordeel.

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar ʼn volskaalse ondersoek is onderweg om die skuldiges aan te keer,” het hy Sondag aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charl

Ai tog sterkte aan die grootmaak familie die diere was pragtig

Jaco Smith

Baie Baie slegte ding met sulke mooi diere. Ek sal self kom nagskof doen sonder betaling, laat weet my asb!!!!!

Riaan

Jaco Smith, ek was vanmiddag op die plaas by Justin en sy familie. Hulle is gebreek. Ek was die enigste persoon daar wat nie familie of vriende was nie, dit is jammer dat so min eintlik belang stel. Hierdie familie het baie hulp nodig. Daar is nog geen sekuriteit om die plaas nie en die 4 familie lede moet snags beurte maak om plaas op te pas. Hulle vra dat die wat wil help net saans moet opdaag met n warm jas/kombers. Hulle sal jou nie bel nie. Trots, wat te verstande is? Help ook finansieel. Ligte en sekuriteit kos… Lees meer »

Bok

Hoe lafhartig kan iemand wees en baie lyding besorg aan diere.

Oom Kalahari

@Jaco, ek sal enige tyd saam jou nagskof werk om hierdie pragdiere op te pas. Dit is regtig hartseer en so onnodig om sulke pragdiere te vermoor en dit vir tradisionele doeleindes. Hoe siek moet mens wees om diere so te vergiftig en as jy dit teenoor ‘n dier kan doen, dan kan jy dit met mense ook doen. Dit is moord.