‘Vergoedingskantoor verantwoordelik vir ernstige menseregteskendings’

Foto: Google Maps

Foto: Google Maps

Die vakbond Solidariteit het bekend gemaak dat hy verskeie stappe oorweeg, insluitend om hom na die Menseregtekommissie (MRK) te wend, rakende die vergoedingsfonds se beweerde versuim om ’n behoorlike diens te lewer.

Adv. Paul Mardon, hoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid en beserings aan diens, het gesê die vergoedingsfonds ondermyn werkers wat beroepsbeserings of -siektes opgedoen het se fundamenteel grondwetlike regte, soos toegang tot sosiale sekerheid en waardigheid.

Solidariteit gaan ook die Openbare Beskermer versoek om haar ondersoek na die funksionering van die vergoedingskantoor te versnel en ook ʼn aanbeveling aan die MRK te stuur. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Mediese Assosiasie (SAMA), wat duisende dokters verteenwoordig, gister aangekondig het dat geen pasiënte met beroepsverwante siektes en beserings verder sonder voorafbetaling behandel sal word nie, tensy lewens- of ledemaatverlies behandeling noodsaak.

SAMA se besluit is gegrond op die wanbetaling van miljoene rande se mediese rekeninge wat uit doktersbesoeke van pasiënte met beroepsbeserings en -siektes spruit en deur die vergoedingskantoor betaal behoort te word.

“Ons grootste kommer is dat werknemers wat daagliks met die trauma van ernstige beroepsbeserings- en siektes moet saamleef, voortaan selfs meer weerloos gelaat gaan word. Hierdie mense het dikwels reeds hul vermoë om ʼn inkomste te genereer verloor,” het Mardon gesê.

“Die vergoedingskantoor se doel is om hierdie mense te ondersteun sodat hulle uiteindelik weer die arbeidsmark kan betree, of om mense wat nooit weer sal kan werk nie, te ondersteun. Omdat hierdie ondersteuningsproses weens ʼn totale ineenstorting van dienslewering deur die vergoedingskantoor nie plaasvind nie, versleg die mense se situasie daagliks. Hulle kry nie hulle uitbetalings by die vergoedingskommissaris nie, raak dikwels agter met hul huishoudelike rekeninge en kan nou ook nie eers meer hul mediese behandeling wat nodig is om terug op hul voete te kom, bekostig nie. Die gevolg is dat baie van hulle net dieper in ʼn kringloop van skuld verval”, het Mardon verder verduidelik.

Volgens Solidariteit is die voormalige vergoedingskommissaris, Shadrack Mkhonto, intussen tot ʼn uitvoerende beampte by die departement van arbeid “bevorder”, terwyl Vuyo Mafata, finansiële hoof van die Werkloosheidsversekeringsfonds, nou as vergoedingskommissaris waarneem.

“Mafata moes binne ʼn maand van sy aanstelling af ʼn omdraaistrategie vir die funksionering van die vergoedingskantoor voorlê en ʼn permanente aanstelling vir die pos van vergoedingskommissaris moet reeds teen einde Augustus gefinaliseer word. Daar is egter steeds geen plan nie en die vergoedingskommissarispos is volgens ons inligting nog nie eers amptelik geadverteer nie. Ons is egter steeds bereid om ons insette te gee en sal die voorstelle wat ons herhaaldelik aan Mkhonto gegee het, ook aan Mafata voorsien,” het Mardon gesê.

Die onderstaande insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anita ·

Dan moet daar dringend ook gekyk word na die werkgewers se bydrae.

Winston ·

Die probleem lê juis by mense wat poste beklee, astronomiese salarisse ontvang en alles staan stil a g v onbekwaamheid. Hierdie is net nog n voorbeeld en die mense wat vergoeding behoort te ontvang, ly daar onder. So is talle instellings in onbekwame hande al heeltemal onredbaar. Dit is skandalig. Werkgewers word gemonitor vir inkomste. Vra my. Ek weet

Barend ·

Wat het van geld geword van polie manne wat elke maand betaal het en hulle lewens verloor tydens diens . Hulle aansoeke word afgekeur . Wat van die ouers van daardie beamptes wat die begunstigdes is . Moet hulle maar net aanvaar ? Vra maar net . Hulle betaal hulle gee hulle lewens dan word daar geweier om te betaal . AFGKEUR

Peet Schabort ·

Tipies onse owerheid met die mooiste grondwet op papier seker in die hele wêreld. Kom dit egter by die toepassing daarvan dan is hulle soos om ‘n lyk die beste medisyne in te gee en te verwag dat dit sal regop sit.

J.Z ·

Grondwet van die beste in die wereld,met n ANC en sy meeloopers aan bewind met die beste in die wereld om aftebreek van iets wat werk.

Allet Venter ·

Liewe genade. Alles in hierdie land val uitmekaar uit. Sars, weermag, vergoedings kommisaris, Transnet, SAL. Te veel om op te noem. Ek kan nie glo mense sien dit en stem nog steeds vir die Anc nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.