Verhoed dat SAUK die SAL word, sê kandidaat

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Alles moontlik moet gedoen word om te verhoed dat die situasie by die SAUK ontaard in dit wat by die SAL gebeur het, het die voormalige rekenmeester-generaal, ʼn voornemende kandidaat vir die SAUK-raad, Woensdag gesê.

Michael Sass het in reaksie op vrae van LP’s tydens onderhoude van kandidate vir die 12 lid nie-uitvoerende raad, gesê die twee sleutelpilare om die openbare uitsaaier om te draai is om die bestuur en finansies te verbeter.

“Ons moet na die finansies kyk. Ons kan nie ʼn situasie hê soos by die SAL waar geld en nog geld net ingegooi word en ons uiteindelik regeringsbates moet verkoop nie,” het hy aan die parlementêre portefeuljekomitee gesê wat onderhoude voer met die 35 kortlyskandidate.

Sass verwys net die beweerde plan van die regering om sy aandeel in Telkom te verkoop om seker te maak dat SAL sy miljarde rand in lenings in September kan terugbetaal.

Hy het aan LP’s gesê hy het “ʼn sterk agtergrond in finansies en bestuur” en stel “drastiese maatreëls voor” vir kostebesparing by die SAUK. “Diegene wat ook nie hul werk behoorlik doen nie, wat skuldig is aan wanadministrasie of enige ander misdryf, moet ernstige gevolge in die gesig staar.”

Sass het die voormalige raad as “misdadig” beskryf en het die tussentydse raad, wie se termyn op 26 September verstryk, gelukgewens met “fantastiese werk”.

Hy het gesê te veel personeel by die SAUK is een van die grootste finansiële laste en bygevoeg daar is moontlik ʼn behoefte om die uitsaaier te herorganiseer.

Sass is uitgevra oor sy ampstermyn by die nasionale tesourie, wat twee jaar gelede tot ʼn einde gekom het. Dit het Dinsdag tydens nóg ʼn parlementêre komiteevergadering aan die lig gekom dat meer as R1 miljard spandeer is aan ʼn IT-stelsel, die geïntegreerde finansiële bestuurstelsel (IFMS), wat nie werk nie.

“Ek glo ek is ʼn eerbare man. As ek skuldig is, moet ek verantwoordelikheid aanvaar vir dit wat ek gedoen het. Tot dusver is daar egter geen bewyse van ʼn misdryf nie. Een ding wat ek nie sal doen nie is om die integriteit van goeie mense, soos mnr Lungisa Fuzile [voormalige direkteur-generaal van die nasionale tesourie], te besoedel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

humor ·

Die selfspogtery klink byna soos die van motsoneng. Hoop regtig hy doen soos wat hy se. Kyk tog vroegtydig na al die kwalifikasies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.