Verhoging in rentekoers verras nie

geld 4 kontant rand

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die besluit van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêre beleidskomitee om die repokoers van 25 basispunte tot 4% per jaar te verhoog, was wyd te wagte. Verdere kwartaallikse verhogings word boonop vir die res van die jaar verwag.

“Ekonome het die toename in die laaste kwartaal [van 2021] voorspel, hulle het dié een voorspel en hulle voorspel ook verdere stygings met dieselfde toename elke kwartaal vir die res van die jaar,” sê Yael Geffen, uitvoerende hoof van die agentskap Lew Geffen Sotheby’s International Realty.

Volgens Geffen het die verhoging geen invloed op die eiendomsmark “wat tans in alle sektore positief lyk” nie en daar is geen rede tot kommer nie.

Sy sê nóú is inderwaarheid die tyd om die eiendomsmark te betree.

“Die mark bevoordeel steeds kopers wat hul oog op eiendomme in sekere prysklasse het, terwyl ʼn tekort aan eiendomme in ander prysklasse begin voorkom. Banke ding egter mee om die verbandmark, en hulle bied baie aantreklike rentekoerse. Met dié dat die eiendomsektor al hoe meer aktief raak, is dit nou die tyd om in te duik.”

ʼn Verhoging in die repokoers beteken dat Suid-Afrikaners meer sal moet opdok om hul skuld te delg, maar ook meer uit hul beleggings sal kry.

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê ook die monetêre beleidskomitee se besluit om die repokoers weer te verhoog, was algemeen te wagte na aanleiding van die voortdurende verhoging in die verbruikersprysinflasiekoers (VPI) – vanaf 3,2% in Januarie verlede jaar tot 5,9% in Desember.

Hoewel die styging in die VPI-koers hoofsaaklik gedryf is deur stygende brandstofpryse en hoër munisipale tariewe, toon ontleding dat die prys van ander goedere en dienste ook gestyg het weens die stygende prys van brandstof en elektrisiteit.

Moyo sê daar word nou verwag dat ekonomiese groei vanjaar sal verlangsaam nadat dit verlede jaar herstel getoon het. Sy wys ook daarop dat die huidige repokoers van 4% laer is as die 6,25% in Maart 2020 voor die Covid-19-pandemie die land getref het.

“Uasa kan net hoop dat die repokoers vir ʼn geruime tyd op 4% sal bly en Suid-Afrikaners die geleentheid bied om hul finansies aan te pas. Ons moedig ons lede en alle Suid-Afrikaners aan om aan te hou spaar wat hulle kan om voorbereid te wees op wat die toekoms ook al mag bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

Dit is ‘n bog storie. Hoe kan die ekonomie verbeter as baie mense hul werk verloor het ? Boonop is al die stadsrade bankrot en diep in die skuld. Die staat is bankrot en sit met meer skuld as bates. Wie het nog geld om te belê as al jou geld gaan vir munisipale tariewe, belastings, heffings, water, krag en brandstof of vervoer? Dit word nou ‘n kwessie van bloed uit ‘n klip uit tap.

Sodra rentekoerse begin styg is dit tyd om die skuld wat jy het te delg. Dit is die slegste ding om nou eiendom of karre te koop, veral met rentekoers stygings in die vooruitsig vir elke kwartaal in 2022.

VaalDonkie ·

Daai rentekoers is opgesit oorlat hulle daai nuwe lening moet terugbetaal. Moenie dat ons nou vir mekaar jok hier nie.

annie ·

SA-burgers en besighede het die afgelope twee jaar swaar getrek. Hoër inflasie is nie te danke aan gierigheid nie, bloot gedwonge gevolge. Ryk beleggers, gieriges en afgetredenes wil nou tap uit die armes se verdriet. Die ANC hou skynbaar van pledgers wat in banke belê maar niks verder bydra nie. Ons landbou-produksie is laer weens reënskade terwyl brandstof pryse styg. Indien ons ‘however’-ooms so voortstu wag ‘n depressie op die horison. G’n mens kan petrol, bloed of Eskomkrag uit ‘n klip tap nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.