Verhoor begin binnekort ná 9-jarige in mislukte kaping sterf

Sadia Sukhraj. Foto: ANA

Die man wat beskuldig word van die moord op die negejarige Sadia Sukhraj tydens ʼn mislukte kaping in die Chatsworth-gebied in Mei vanjaar, het Donderdag weer in die Durban-landdroshof verskyn.

Tydens Sbonelo Seni Mkhize (35) se verskyning is die verhoordatum vasgestel en die klagstaat is aan hom bestel. Die verhoor sal op 19 November in die Durbanse hooggeregshof begin.

Luidens die klagstaat word Mkhize aangekla van “gemeenskaplike doel” in twee aanklagte van moord: een rakende die dood van Sadia en een rakende die dood van sy vermeende medepligtige, Siyabonga Bulose.

Mkhize staan ook tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede nadat hy na bewering Shailendra Sukhraj se motor, sak, selfoon, bankkaarte, sleutels en kontant geroof het. Shailendra is Sadia se pa.

Sadia en haar pa was die oggend van 28 Mei op pad skool toe en het eers by haar grootouers se huis in Shallcross stilgehou. Sadia het agter in die motor gesit, terwyl haar pa by haar oupa en ouma se huis uitgeklim het. “Terwyl sy in die stilstaande motor in haar grootouers se oprit was, het die beskuldigde en nog ʼn aanvaller haar pa oorval,” lui die klagstaat.

“Die aanvallers was gewapen en het ʼn vuurwapen op haar pa gerig en die sleutels geëis. Hy het die motorsleutels na hulle gegooi, waarna hulle in die voertuig geklim het. Terwyl die aanvallers van die toneel gevlug het met sy dogter steeds in die motor, het hy verskeie skote op die bestuurder afgevuur met sy gelisensieerde vuurwapen.”

Die voertuig het tot stilstand gekom nadat dit teen ʼn ander voertuig gebots het en Mkhize het te voet op die vlug geslaan. ʼn Polisiebeampte wat van diens af was, het hom egter agternagesit en vasgetrek. Mkhize se medepligtige is in die bekken gewond en is op die toneel dood oomblikke nadat hy uit die motor gespring het.

Sadia is na ʼn hospitaal gehaas waar sy dood verklaar is nadat sy skietwonde aan haar bors opgedoen het.

Die kind se dood het opslae in die gemeenskap gewek met woedende inwoners wat ʼn optog na die plaaslike polisiestasie gehou het om te eis dat daar ingegryp word teen die onaanvaarbare vlak van misdaad in die gebied. Die groep van sowat 1 000 betogers is met skokgranate en rubberkoeëls bestook nadat die polisie beweer het hulle is gedreig.

Altesaam 20 mense is tydens dié voorval in hegtenis geneem wat spanning in die gemeenskap nog meer vererger het. Bheki Cele, minister van polisie, het later die gebied besoek en ʼn lys van griewe van die gemeenskap ontvang.

Cele het twee weke ná sy eerste besoek teruggekeer en belowe daar sal meer voertuie aan die polisiestasie verskaf én sigbare polisiëring opgeskerp word. Hy het ook gesê die polisiestasie het nog 16 beamptes nodig, maar geen beloftes gemaak of en wanneer nog beamptes aangestel sal word nie.

Mkhize het tydens sy eerste verskyning met kneusplekke en ʼn mank been in die beskuldigdebank verskyn en beweer die polisie het hom aangerand. Die staat het egter aangevoer hy is aangerand toe woedende gemeenskapslede hom beetgekry het terwyl hy in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martin ·

Dit wil voorkom dat die pa self sy dogter raak geskiet het

ES ·

Martin, ek dink jy is reg. Die eerste ding waaraan ek sal dink as iemand my wil kaap is my kind of vrou in die kar en sal vra of ek hul eers kan uithaal… baie baie tragies – mens kan seker nie jouself indink wat jy in so situasie sal doen en hoe jy sal reageer tot dit met jou gebeur nie.

HPV ·

Ja, dit is tragies! Dit is ook tragies dat landsburgers gedwing word om hulself te verdedig in hul geboorteland omdat die regering lees regime alle beheer verloor het en sodoende ‘n menseslagting hom hier afspeel!

oopkop ·

Dis tragies. Wonder maar net of die Pa moontlik self sy dogter raakgeskiet het? Ek sit myself in die Pa se skoene. Dink nie ek sou toekaat dat hulle die sleulet kry totdat my kind uit die motor is nie. Ek sou bang wees om op n voertuig te skiet waar my kind moontlik gewond kon word. Ek sou eerder my eie lewe te waag om my kind te beskerm. Baie hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.