Verhoor begin twee jaar ná Deacon-moorde

Advanced Hamid (30), Casper Mudau (35), Sophie Mmako (51) en Lazarus Mahlo (41) (Foto: Anja van der Merwe)

Die vier verdagtes wat tereg staan vir die moord op Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), sal eers volgende jaar in die hooggeregshof in Polokwane in Limpopo verhoor word.

Advanced Hamid (31), Casper Mudau (37), Lazarus Mahlo (41) en Sophie Mmako (51) het Vrydag weer vlugtig in die landdroshof in die stad verskyn. Hulle staan tereg op twee aanklagtes van moord en roof met verswarende omstandighede. Hamid en Mudau is onwettig in die land.

Die saak is na die hooggeregshof oorgeplaas en dié vier sal van 1 tot 12 Augustus volgende jaar daar verhoor word.

Lizette en Hettie se liggame is op 10 September die aand laat in hul motor langs die R37 by die Kuschke-afrit, buitekant Polokwane, gevind. Hulle is laatmiddag ontvoer nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie meswonde gehad.

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

Die nadoodse ondersoek het intussen bevind dat die oorsaak van hul dood versmoring was. Die lappe wat om hul monde vasgebind is, was baie styf vasgemaak, wat veroorsaak het dat hulle versmoor het.

Landdros Janine Ungerer het in Oktober Mmako en Mudau se borgtogaansoeke van die hand gewys. Hamid en Mahlo het toe besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie. Sy het gesê die verdagtes hou ’n vlugrisiko in. Albei verdagtes het ook vorige veroordelings teen hulle.

In November het al vier verdagtes weer om borgtog aansoek gedoen, wat weereens geweier is.

Mmako was die Deacons se jarelange huiswerker en ook die vermeende meesterbrein agter die moorde. Sy en Mahlo was glo boonop ten tyde van die moorde in ’n verhouding.

Die ondersoekbeampte, ao. Joseph Malebana, het in die hof aangevoer dat Mmako erken het dat sy alles aangaande die moorde georganiseer het. Sy het glo die messe gereël waarmee die Deacons gesteek is en die aand van die moorde die agterdeur vir die moordenaars oopgelos. Sy het glo ook erken dat sy vir die moordenaars gewys het waar hulle kan wegkruip totdat die Deacons by die huis opdaag.

Die Deacons was die eienaars van die Ocean Basket-restaurante in die Mall of the North en die Savannah Mall in Polokwane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Help my verstaan hoekom moet dit so lank wees voor die verhoor begin? Alle bewyse is mos daar en dit kan mos n vinnige vonnis wees en klaar. Wag die howe dat bewyse en dossiere weg raak in die tussen tyd?

Persheks Adri ·

Mag hulle vrot in die tronk! Hulle vermoor koelbloedig onskuldige mense. Ek verstaan ook nie hoekom die saak so lank sloer nie hel man

Dup ·

Die reg en gereg word deur onbeholpenheid en onbekwaamheid gekortwiek…..ondersoekwerk nie behoorlik gedoen nie….. getuienis en bewysstukke gaan verlore….hofrolle is oorlaai weens hoë misdaadsyfers in SA…..die lys van redes is lank…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.