Verhoor hervat van afrigter wat met seuns lol

Parktown Boys’ High School. Foto: Via Facebook

Collan Rex (22), ʼn voormalige waterpolo-afrigter van Parktown Boys’ High School in Johannesburg wat skuld beken het op sekere seksuele aanklagte teen hom, se verhoor hervat Donderdag in die Palm Ridge-hooggeregshof.

Die verhoor is Woensdag vertraag aangesien die hof se tussenganger ʼn ander saak gehad het om by te woon.

Staatsaanklaer Arveena Persad het aan regter Peet Johnson gesê die tussenganger moes bystaan in ʼn ander saak wat in die Johannesburg-hooggeregshof aangehoor is.

William Robertse, Rex se regsverteenwoordiger, het saam met die staat gestem dat die verhoor weens dié rede tot Donderdag uitgestel word.

Rex, wat ook eens op ʼn tyd ʼn leerder by dié skool was, staan tereg op talle aanklagte wat verkragting, seksuele aanranding, poging tot moord, blootstelling van ʼn minderjarige aan pornografie en seksuele gereedmaking insluit.

Hy het skuld beken op 144 seksuele aanklagte waarby 12 leerders betrokke was. Altesaam 23 seuns, tussen 14 en 16 jaar oud, het bewerings teen hom gemaak. Hy het onskuldig gepleit op 183 van die 327 aanklagte teen hom.

Die hof het Dinsdag die getuienis van drie seuns gehoor wat na bewering in 2016 deur Rex aangerand is toe hulle daar skoolgegaan het.

Die hof het gehoor hoe Rex met die seuns gestoei het en hulle soms sou wurg tot hulle nie asem kry nie. Een van die seuns het getuig dat Rex hom gedwing het om sekstonele uit die fliek 50 Shades of Grey te kyk en dat die seun gevoel het die fliek is nie geskik vir iemand van sy ouderdom nie.

Rex is tans uit op R3 000 borgtog. Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Floute ·

Kry ek amper n floute en ek raak nie flou nie. Ek kan net nie die omvang in so kort tyd glo nie. Ek is egter dankbaar hy is gevang – ek wil nie eens dink as dit nog 10-30 jaar sou aanhou. Aan die seuns & hul ouers kry asb behoorlike terapie, die fout le by n gewetenlose verkragter – met sovvel klagtes en erkennings kan die fout net by 1 persoon le. Sterkte vir julle & mag jul genade ontvang om dit agter jul te kry & goeie lewens vorentoe vir julself te skep.

JJ ·

hoekom sit julle nie n foto van die verkragter op nie sodat almal kan weet hoe hy lyk en seker maak dat hy in die toekoms nie naby kinders kom nie.
sterkte vir almal my hart gaan uit na julle toe

marous ·

Waarom vonnis hulle hom nie solank op 144 aanklagte nie ? ‘n Jaar per klagte behoort te doen ….dan kan hul rustig voortgaan met die verhoor van die ander 183 aanklagte .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.