Verhoorafwagtende dien klag teen bewaarders in ná ‘aanranding’

Die gevangenis op Springbok. (Foto: Isaac Cloete)

Die familie van ʼn verhoorafwagtende beweer hulle is van bakboord na stuurboord gestuur nadat hy glo deur bewaarders by die Springbok-gevangenis aangerand is.

Pieter Cupido, die oupa van ʼn 25-jarige verhoorafwagtende van Matjieskloof, en die verhoorafwagtende se ma, Veronica Klaase, het verlede week rond en bont hulp gevra nadat die beweerde aanranding aan die lig gekom het.

Omdat Klaase in die Kaap werk, moes Cupido daagliks sukkel om by die gevangenis uit te kom om vas te stel wat met sy kleinkind gebeur het, asook waarom hulle so getalm het om hom geleentheid te gee om ʼn saak te maak.

“Afgesien van die pyn en ongemak was die ergste pyn dat die gevangenis gesloer het om hom by ʼn dokter te kry en daarna ʼn saak te maak. Eers nadat die media ingetree het, het die gevangenis wakker geskrik,” het Klaase aan Maroela Media gesê.

Haar seun is glo al verlede Sondag, in die vroeë oggendure, aangerand. Sy het eers Dinsdag daarvan te hore gekom.

“My seun het laat weet dat twee bewaarders hom so lelik, voor ander gevangenes, aangerand het. Hy is vermoedelik op sy kakebeen met die vuis geslaan en hierna ook geskop. Toe hy my bel, kon hy skaars praat van die pyn. Die gevangenis het gelieg en aan my vertel dat dit goed met hom gaan, terwyl sy kakebeen erg beseer was,” het sy halfhuilend maar boos gesê.

Cupido het Maandag gesê dat sy kleinkind se kakebeen gekraak en een van sy tande skeef geslaan is volgens X-straalplate, wat uiteindelik geneem is.

ʼn Plaaslike joernalis het die oupa op drie agtereenvolgende dae na die tronk vergesel vir ondersteuning. Tydens Woensdag se besoek het die hoof van die gevangenis, Simphiwe Malo, aanvanklik kopskuddend vertel dat hulle geen klagte ontvang het nie. Hy het ook gesê dat daar wel ʼn versoek was dat iemand na die tandarts moes gaan.

Tydens Donderdag se besoek was die bewaarders skielik besig om die verhoorafwagtende na die tandarts te neem, toe hulle die oupa en dieselfde joernalis daar sien opdaag. Hoewel Malo ingestem het dat die verhoorafwagtende gesien kon word, het die bewaarders hom ongesiens na die tandarts geneem.

Op aanbeveling van die Springbok-speurafdeling en aandrang van Cupido, is die gevangenis vir die derde keer Vrydag besoek. Een van die senior bewaarders was baie behulpsaam en het dadelik reëlings getref sodat die verhoorafwagtende in die teenwoordigheid van die twee “besoekers” die saak kon laat registreer.

Intussen het ʼn ander senior bewaarder daar opgedaag en baie onbeskof en aanvallend gesê dat die media nie by die tronk mag wees nie.

Hy het verder gesê dit is die media wat verkondig het dat die bewaarders die verhoorafwagtende geïntimideer het om nie ʼn saak te maak nie. Hy kon egter nie verduidelik waarom hy die bewerings gemaak het nie.

Klaase het later vertel dat sekere bewaarders baie swak diens aan die publiek lewer en nie hulle amp werd is nie. Sy was egter dankbaar dat die een bewaarder uit sy pad gegaan het om toe te sien dat haar seun wel ʼn saak teen die twee bewaarders kon laat maak. Verder is sy baie bly dat die Springbok-speurafdeling haar ook mooi ondersteun het.

Malo was nie vir verdere kommentaar beskikbaar nie omdat hy in Bloemfontein is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Daar is nog darem die uitsonerings wat hulle werk doen ons hoor net nie altyd daarvan nie.

Diklizzy ·

Nou wonder ons waarvoor is hy verhoorafwagtend? Moord, verkragting, kindermolestering? Hoekom is hy aangerand? Was hy opstandig, intimiderend? Het hy mede gevangenes bedreig? Weereens seeviër die krimineel se regte.

Jan ·

Dit is so maar dis ook moontlik dat hy onskuldig is mens weet nie…

Alida ·

As hy hom gedra het sou hy nie daaraan blootgesyel gewéd het nir
Kry vit jou.

GM ·

Waarvoor is die man in die tronk? As dit is vir iets soos aanranding, moord of verkragting, dan sou ek sê verdien hy daardie pakslae dubbel en dwars. Hulle is altyd gou om te huil as die rolle omgeruil word, maar het vir geen oomblik aan hul slagoffers gedink toe hulle die misdade gepleeg het nie.

Julie Jansen van Rensburg ·

Ek is self besig om meer omtrent die optrede van personeel by ‘n sekere gevangenis uit te vind – wat die wet oor optrede teenoor gevangenes bepaal – want hierdie plek waaroor dit gaan is ‘n absolute SKANDE – een persoon het ongeveer 80 kg geweeg toe hy (eintlik onskuldig – werklik) toegesluit is en nou weeg hy maar ‘n skrale 45 kg – daar kry hulle maar vier snye brood brood per dag en ‘n klein bietjie halfgaar pap met ‘n stukkie vis wat nie behoorlik skoongemaak is nie. Geen groente nie – hierdie man is besig om letterlik uit te teer … ‘n lang storie wat ek NIE hier gaan vertel nie. Ek soek net antwoorde; verwysings oor wat die wet oor gevangenisse sê…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.