Verhoorafwagtendes oproerig by Butterworth-tronk

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het gesê hy doen stappe teen verhoorafwagtendes by die Butterworth- korrektiewe sentrum in die Oos-Kaap.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, het gesê hy is bewus van ʼn video wat op sosiale media rondgestuur word van oproerige verhoorafwagtendes wat met mensgemaakte skerp voorwerpe gewapen is.

“Die voorval het op 14 Junie by Butterworth plaasgevind. Altesaam 34 verhoorafwagtendes het die sel se deur met beddens versper en geëis dat hulle hof toe geneem moet word, selfs al was die hof gesluit weens bevestigde Covid-19-gevalle,” het Nxumalo verduidelik.

“Dit kan slegs as vandalisme en boewery beskryf word, met ʼn absolute minagting vir outoriteit. Dit is baie ontstellend as diegene in aanhouding nie enige respek toon vir die wet nie, omdat dit slegs beskou kan word as iemand se doelbewuste poging om die wette van die land te minag. Hierdie optrede deur verhoorafwagtendes het geen plek in korrektiewe dienste nie en daar moet baie streng opgetree word wanneer dit weer kop uitsteek.”

Nxumalo het gesê wetsgehoorsame burgers voldoen steeds aan die afsonderingsriglyne en dit is ʼn belediging as diegene in aanhouding eis dat hulle na ʼn geslote hof geneem moet word. “Die departement het vinnig opgetree en orde is dieselfde dag nog herstel. ʼn Soektog is ook gedoen om alle onwettige middele te konfiskeer. Die voorbokke is ook geïdentifiseer en geskuif terwyl dissiplinêre stappe teen alle deelnemers gedoen word.”

Hy het benadruk soortgelyke kriminele gedrag kan nie geduld word nie. “Geen genade sal dus verleen word aan die 34 verhoorafwagtendes nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.