Verhoordatum vas vir Bizos se vervolging

Monique van Oosterhout (Foto: Verskaf deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid)

Alexis Bizos, seun van adv. George Bizos, het Vrydag in die Johannesburgse landdroshof verskyn op ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het as aanklaer opgetree namens die slagoffer, Monique van Oosterhout. Sy was ten tyde van die voorval met Alexis Bizos getroud. Die verhoordatum is voorlopig vir 4 Mei 2020 vasgestel.

Bizos het Van Oosterhout na bewering in 2015 aangerand en ses van haar ribbes gebreek. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik geweier om hom te vervolg. Adv. George Bizos is ʼn kampvegter vir menseregte en was destyds uitgesproke in sy kritiek op apartheid.

Nadat AfriForum in 2018 aangekondig het dat hy aansoek gedoen het vir ’n nolle prosequi-sertifikaat om Bizos te vervolg, het die NVG skielik aangekondig dat hy Bizos wel gaan vervolg. Bizos is daarna genooi om vertoë aan die NVG te rig, voordat die vervolging ingestel sou word. Ná ontvangs van Bizos se vertoë het die NVG weer eens besluit om nie te vervolg nie. Van Oosterhout het daarna weer aansoek gedoen om ’n sertifikaat om Bizos privaat te vervolg.

“Dit is duidelik dat die NVG bloot besig is om lippediens te pleeg met betrekking tot sake van geweld teen vroue en kinders. Bizos word skynbaar nie vervolg nie weens sy pa se politieke verbintenisse, en dít is onaanvaarbaar,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se private vervolgingseenheid.

Volgens Leask is dit vir AfriForum se private vervolgingseenheid belangrik om by sake soos hierdie betrokke te raak. Eerstens omdat die NVG nie selektief kan wees met die vervolging van verdagtes nie en tweedens omdat die regstelsel hierdie slagoffer telkemale in die steek gelaat het.

“Die NVG se aanduidings dat hy fokus op sake van geweld teen vroue en kinders blyk nie te geld in alle gevalle nie. Ons wil verseker dat sekere persone nie as verhewe bo die reg beskou word nie, en beskou geweld teen vroue in ’n ernstige lig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

AfriForum 1, NVG 0, whahahaha!

Pieter J

Ek wonder of hierdie Alexis kêrel sy swak oordeelsvermoeë oorgeêrf het en of dit maar net ANC maniere is.

Jaco

onthou net, dieselfde ANC waarvan sy pa lid is, regeer SA en beheer dus die regstelsel. So die uitspraak kan nog steeds in sy guns wees, veral as die regter sy werk wil behou…