Verhoordatum vir Tazné-moordsaak

Tazné van Wyk (8).

Die verhoor van die man wat van die moord op die agtjarige Tazné van Wyk verdink word, sal einde Mei begin.

Die saak teen Moehydien Pangaker (54) is Vrydag tydens die voorverhoor in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgestel nadat daar op die verhoordatum 31 Mei ooreengekom is, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, aan Maroela Media bevestig.

Albert Fritz, die minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het die verhoordatum verwelkom.

“Dit is welkome nuus dat Tazné se vermeende moordenaar nou verhoor sal word. Ek hoop dat dit ’n mate van berusting vir die Van Wyk-familie sal bring wat ’n onmeetlike verlies gely het. Geen ouer behoort die verlies van hul kind te verduur nie.”

Moehydien Pangaker (Foto verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Tazné se liggaam is in Februarie verlede jaar in ’n stormwaterpyp buite Worcester aangetref.

Sy het op 7 Februarie weggeraak toe sy na ʼn winkel oorkant hulle huis in Clarestraat in Ravensmead gestap het.

Pangaker het ten tyde van haar verdwyning tydelik by sy niggie Abigail Adams gewoon, oorkant Tazné se ouerhuis. Die kafee waar Tazné die middag nog ʼn ysie gekoop het, is reg langsaan die Adams-woning.

Die staat voer aan dat Pangaker vir Tazné na die treinstasie in Parow gelok het waarna hy haar na bewering na Worcester geneem het voordat hy haar verkrag en vermoor het.

Pangaker word buiten die moord op Tazné ook van talle ander misdade aangekla. Dié aanklagte hou verband met die beweerde herhaaldelike verkragting en aanranding van sommige van sy familielede.

Pangaker, ʼn vorige oortreder, is in 2001 tronkstraf opgelê vir die moord op sy seun. Hy was ten tye van Tazné se moord uit op parool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elsabe ·

Uit op parool na hoeveel jaar? En hy doen dit weer. Sommige kan nie gerehabiliteer word. Hoe bepaal jy dit?

Karina ·

Wys weereens, stuur ‘n persoon tronk toe, as hy uitkom op parool, pleeg hy dieselfde misdaad.

SomeOne ·

almal wat in die tronke is vir ernstige misdade, word of op borg of parool vrygelaat net om dieselfde oortredings te begaan, alles die toedoen van die re gering wat nie die oortredings ernstig opneem nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.