Verhore oor ‘eksamenkullery’ begin

Argieffoto.

Argieffoto.

Die departement van basiese onderwys het Donderdag bevestig dat die dissiplinêre verhore van leerders van die High Quality Independent High School in Limpopo, wat daarvan verdink word dat hulle tydens verlede jaar se matriekeindeksamen oneerlik was, begin het.

Die eksamenuitslae van hierdie leerders, wat na bewering by mekaar afgeskryf het, word intussen teruggehou.

“Die verhore vir al die betrokke leerders sal in die volgende twee weke afgehandel word en daarna sal finale aanbevelings aan die provinsiale komitee vir eksamen-onreëlmatighede deurgegee word vir bekragtiging,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, gesê. “As alles volgens plan verloop, sal die uitkoms van die verhore teen einde Januarie beskikbaar wees.”

Volgens Mhlanga is daar ook vordering gemaak in die ondersoek na beweerde onreëlmatighede by die Giyani High School en New Era Kollege nadat die wiskundevraestel 2 tydens verlede jaar se matriekeindeksamen uitgelek het. “Die uitslae van al die vakke van die betrokke studente by die twee skole word teruggehou hangende ʼn volledige ondersoek,” het Mhlanga gesê.

Hy het gesê die provinsiale komitee vir eksamen-onreëlmatighede in Limpopo het die verhore vir die Giyani High School-leerders Dinsdag gehou en al die leerders was teenwoordig.

Die departement kon egter nie met die New Era Kollege-leerders se verhore voortgaan nie omdat die instansie ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof in Thohoyandou ingedien het. Die instansie wil die plaaslike onderwysdepartement dwing om die leerders se uitslae vir al hul ander vakke behalwe wiskunde bekend te maak.

Die hofsaak is na vandag uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jem ·

Kla sommer die onderwysers ook aan wat konsuis moet toesig hou. Totaal onaanvaarbaar.

jaco ·

skoolstandaarde is nou so laag, dat dit vreemd is dat die leerders hoegenaamd hoef te kul in eksamens. die werk is maklik, amper poeding. ek was verbaas toe ek onlangs ‘n matriek geskiedenis vraestel, nogal op die hoër graad, gesien het. ek kon meeste vrae uit my kop beantwoord. ek ek was net meer as 31 jaar laas op skool.

LS ·

Ek hoor jou Jaco….soos wie was die eerste wittes in SA. Na 365 jaar kry hy nog steeds die skuld vir alles

John ·

Al gewonder of oopboek-eksamens nie maar vir leerders gegee moet word nie en sommer ook die bladsynommer vir die antwoorde nie, maar dit sal die punte skaars verbeter, want die meeste sal hul handboeke vir die eksamen by die huis vergeet of die antwoorde verkeerd afskryf (of bladsye kort; uitgeskeur vir ‘n zol agter die ou sangklas) en weer sal die punte op of af aangepas word. Vraestelle sal weer gesteel word om seker te maak dat die eksaminators nie die vrae verkeerd verstaan nie… of verkeerde bladsye aangedui het nie… En weer sal daar dadels kom van die ondersoeke na oortredings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.