Verkeersbeampte by gastehuis in Nelspruit doodgeskiet

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

ʼn 38-jarige verdagte, ʼn wetstoepasser by die Mbombela-munisipaliteit, sal binnekort in die Nelspruit-landdroshof verskyn in verband met die moord op ʼn provinsiale verkeersbeampte by Kwanyoni-gastehuis in Nelspruit.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê die verkeersbeampte en sy vriendin was Saterdag ingeboek by die Kwanyoni-gastehuis op die N4, sowat 15 km buite Nelspruit. “Terwyl hulle in die chalet was, het die vrou se man daar aangekom en die deur oopgeskop. Daar was ʼn onderonsie, aangesien ʼn gebreekte bierbottel op die toneel gevind is. Die verkeersbeampte het na bewering uit die chalet gehardloop en die man het hom agtervolg en skote op hom gevuur. Die slagoffer is twee keer geskiet en het aan sy beserings beswyk. Die verdagte het van die toneel gevlug.”

Die Valke se eenheid in Nelspruit, wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, Nelspruit se sigbarepolisiëringseenheid en Nelspruit se plaaslike kriminele rekordsentrum het op die voorval reageer.

“Die span het inisiatief geneem en die verdagte telefonies gekontak. Hy het homself aan Nelspruit se polisie oorgegee.”

Beamptes het beslag gelê op sy amptelike vuurwapen wat tydens die voorval gebruik is.

“Hy staan tereg op aanklag van moord en bly in aanhouding tot met sy eerste hofverskyning binnekort. Die ondersoek duur voort.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

madels ·

Ek kry die arme man so jammer, ek stem nie saam dat hy sy vrou se skelmpie vermoor het nie, maar wow, hoe pynlik moet dit net nie vir hom wees om te weet sy vrou gaan nou saam met die skelpie slaap daai dag nie… dis n pyn wat so diep is, dit sal jou dryf na moord

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.