Verkeersbeampte skiet glo vriendin, toe homself

Die toneel buite Bela-Bela in Limpopo. (Foto: SAPD)

’n Verkeersbeampte van Limpopo het glo sy vriendin langs die pad buite Bela-Bela doodgeskiet voordat hy die vuurwapen op homself gedraai het.

Die 45-jarige verkeersbeampte het homself Dinsdag met sy dienspistool in sy motor langs die pad doodgeskiet toe ’n verbygaande motoris die liggaam van ʼn vrou langs die motor op die grond opgemerk het.

Die beampte het vermoedelik kort tevore sy vriendin (30) doodgeskiet.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die verkeersbeampte, verbonde aan die munisipaliteit in Bela-Bela, was gister aanvanklik op die R101 aan diens voordat hy in sy motor vort is.

Hy het later sy eie lewe op die Alma-pad buite die dorp geneem toe ’n verbygaande motoris langs die pad stilgehou en sy motor genader het.

Mojapelo sê die motoris het die liggaam van ʼn vrou, die beampte se vriendin, langs die pad opgemerk en gedink dat die vrou moontlik in ’n ongeluk betrokke was. Die motoris het stilgehou en die motor genader. Dit is toe dat die verkeersbeampte homself om die lewe gebring het.

Die motoris het die polisie na die toneel ontbied.

’n Saak van moord word ondersoek terwyl ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het intussen die voorval veroordeel.

“Mense word gevra om professionele hulp te soek wanneer hulle voor huishoudelike of verhoudingsuitdagings te staan ​​kom en nie geweld te gebruik wat tot lewensverlies lei nie,” het Ledwaba gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TO ·

Dit is net skrikwekkend hoeveel polisie / verkeersamptenare hulle lewensmaats afmaai. Nee man, lui daar nie ‘n klokkie by die mense in beheer nie. Dit gaan dit nie verhoed, maar al gedink om hulle wapens in te trek as hulle van diens af is

SomeOne ·

meeste van sulke mense wil nie graag hul persoonlike probleme met iemand anders bespreek nie, daarom draai hul eerder die vuurwapen op die naaste aan hom en homself

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.