Verkeersbeampte vas ná hy glo op kinders losbrand

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Verkeersbeampte is in hegtenis geneem ná hy na bewering op ʼn groep tienermeisies losgebrand het.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Woensdag omstreeks 12:30 in Greenside in Limpopo plaasgevind. Die verkeersbeampte was nie aan diens ten tyde van die voorval nie.

“Daar word beweer dat drie minderjarige meisies, onderskeidelik 13, 15 en 17 jaar oud, langs die straat gestap het toe die verkeersbeampte hulle begin beledig het. Daar het ʼn woordewisseling tussen hulle en die beampte ontstaan, en die beampte het hulle met sy voertuig begin jaag. Hy het verskeie skote in die kinders se rigting afgevuur,” het Ngoepe gesê.

Die 17-jarige meisie is in die proses raakgeskiet.

Die polisie en nooddienste is onmiddellik na die toneel ontbied en die verkeersbeampte is vasgetrek. Daar is ook beslag gelê op sy private vuurwapen.

“Die slagoffer is na die plaaslike hospitaal gehaas waar sy behandel is. Sy sterk nou by die huis aan,” het Ngoepe gesê.

Die polisie is besig met ʼn ondersoek om die omstandighede rakende die skietery te bepaal.

Die polisie het wettige wapeneienaars herinner dat hulle altyd moet voldoen aan die bepalings van die Vuurwapenbeheerwet.

Die verkeersbeampte sal binnekort in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet Snot ·

Moenie wettige wapeneienaars aan enigiets herinner nie.
Herinner verkeerskonstabels dat hulle nie bo die wet verhewe is nie.

KG ·

Daar is ongelukkig baie mense in gesagsposisies wat dink hulle is verhewe bo die wet!

CHRISTA ·

Verkeerskonstabels en polisie kan net links en regs skiet, maar hulle wil ONS wapens wat veilig gehou word wegneem!!!

PJC ·

Hierdie onverantwoordelike ou behoort sy werk onmiddellik te verloor en nooit weer in sy lewe toegelaat te word om ń vuurwapen te besit nie. Wat het ń verkeersbeampte na alles te doen met kinders wat op ń sypaadjie loop. Hy is nie ń polisie beampte nie al dink hy so omdat hy ń uniform en ń vuurwapen het. As dit my kind was wat raakgeskiet was sou hy na dese polisiebeskerming nodig gehad het. Sy kollegas gaan nou weer allerhande goed fabriseer om hom te beskerm.

Sarel Strydom ·

Hoeveel sg Wetstoepassers is daar wat nie Vuurwapen kwalifikasie het nie.

bgj van der westhuizen ·

hier is meer agter die storie dit gaan nie net oor beledig nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.