Verkeersbeamptes het hande vol op Wes-Kaapse paaie

Argieffoto

Verkeersbeamptes in die Wes-Kaap moes die naweek bontstaan met talle padongelukke, padblokkades en inhegtenisnemings wat op die provinsie se paaie plaasgevind het.

Kenny Africa, woordvoerder van die Wes-Kaapse verkeersdepartement, sê voorlopige data dui daarop dat agt mense Vrydag en Saterdag op paaie in die provinsie gesterf het, van wie ses voetgangers was. In Philippi is ʼn passasier in ʼn padongeluk dood, terwyl ʼn motoris in Klapmuts in ʼn botsing gesterf het.

Afgesien van die padsterftes het verkeersbeamptes ook talle motoriste vasgetrek wat verkeersreëls oortree het. Vrydag en Saterdag is altesaam 1 751 voertuie in die provinsie voorgekeer en 1 098 bestuurders moes blaastoetse vir alkohol doen. Altesaam 29 van hierdie bestuurders is op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem.

Volgens Africa is die hoogste bloedalkoholvlak in Knysna waargeneem, waar die motoris sewe keer oor die wettige alkoholperk was.

In Worcester is ʼn motoris vir vervalste dokumente in hegtenis geneem, terwyl ʼn dronk voetganger in Oudtshoorn hom in handboeie bevind het. Twee motoriste is ook in Mosselbaai in hegtenis geneem vir spoedoortredings. Een van dié jaagduiwels het 168 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery.

Africa sê 224 verkeersboetes ter waarde van altesaam R369 700 is in die provinsie uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Chris Ws ·

Dit klink als baie goed maar boetes vir verkeersoortredings moet 400% verhoog word want oortreders betaal dit te maklik en gee nie om om weer te oortree nie.
Tronkstraf moet in sperstreep oortredings die enigste opsie gemaak word want mortoriste pleeg poging tot moord.
Vir motoriste wat spoedsones met meer as 20km/h oorskry se voertuie moet verbeurt verklaar word aan die staat.Jaagduiwels en spoedvrate MOET hard vasgevat word.Hulle speel met hul eie,hul passasiers EN mede padgebruikers se lewens en voel vere!

Francois Joubert ·

Chris, in die Weskaap kry jy ‘n boete in die pos. Dalk een opvolg boete in die pos volg. Daarna stop die proses. DAAR le die probleem. Dink jy mense betaal nog boetes as dit so werk?

Chris ·

Chris, ek stem 100% saam met jou. Maar gaan al die dinge gebeur? Dit sal mos die arme mense se regte skend, maar daar word vere gevoel vir die regte wat die slagoffers gehad het.

wet ·

En jou voertuig moet ook gevat word as jy 20km/h stadiger ry as die voorgeskrewe spoed of nie? Dis tog sulke mense wat ongelukke veroorsaak in die nag??? Selfde vir mense wat nie kan onderskei tussen hou links en gaan regs verby nie. Dis hulle wat ook ongelukke veroorsaak en vere voel

Hendrik UAE ·

Uit bogenoemde is 6 uit 8 sterftes voetgangers,Lyk my meer aandag moet aan hulle gegee word as n nugter bestuurder wat met n goeie kar 20 kilos oor die spoed grens ry.

Hanna Hoekom ·

Ek stem! Voetgangers wat oor nasionale paaie hardloop, is n hengse probleem. Gaan ry maar op die N2 naby Kaapstad lughawe. As dit nie voetgangers is nie, dan is dit plaasdiere! En ja, daar is n ordentlike muur rondom hul woonbuurt opgerig, maar hulle hou aan om van die beton “slabs” uit te slaan. My Amerikaanse vriend se eerste indruk van Kaapstad was n vrou wat op haar hurke oop en bloot langs die pad sit en n nommer twee doen.

Katerina ·

Ek stem saam dat voetgangers baie gevaarlik kan wees op die paaie, veral dronkes. In die 2 motor ongelukke waarin ek as passasier was,het die kar in beide gevalle gerol. Ek kon dood gewees het maar was in beide gevalle net bonatuurlik gelukkig om sonder skrapie weg te stap. Altwee was veroorsaak deur dronk voetgangers.

Robert ·

Sosiopatolgie…die verval van wet en orde. Geen respek vir hulself of ander nie. Die wonderlike reënboognasie se kite het nooit gevlieg nie.

Andre Stander ·

Waar in Suid Afrika ry mense linkerhandse stuur voertuie…? Soos per die illustrasie?

IK ·

Hier by my is daar ‘n Ford F250 met linkerstuur. Hulle vertel van die ou wat die ‘bestuurder’ van so ‘n voertuig uitgetrap het, toe hy klaar is beduie die ‘bestuurder’ na links en sê: ‘loop om en gaan trap hom uit want dis ‘n linkerstuur . . . ‘

Hannelie ·

Kenny Africa ek moet se jy en jou beamptes doen julle werk ek wens dit kan so gedoen word in gauteng

SjN ·

Bestuur onder die invloed, In die Kaap roep hulle dit lekker dryf.

aj ·

Welgedaan Kaap!!!

Só word die ‘wilde mense’ stelselmatig gedissiplineer … wat uiteindelik bydra tot die vestiging van ‘n beskaafde gemeenskap.

Daar’s hoop vir die Kaap!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.