Verkeersbeamptes in eie omkoopstrik gevang

Die twee verkeersbeamptes tydens hul inhegtenisneming. (Foto: Verskaf)

Twee Vrystaatse verkeersbeamptes is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering omkoopgeld van R1 500 van ’n motoris geëis het.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die twee verkeersbeamptes het Vrydag omstreeks 11:00 ’n motor buite Bultfontein, op pad na Bloemfontein, voorgekeer en omkoopgeld by die bestuurder van dié motor geëis.

Die motoris, ’n inwoner van Bultfontein, is aangesê om die omkoopgeld te betaal voordat hy of sy verder kon reis. Die motoris het eindelik die omkoopgeld betaal. Die polisie is egter later van die voorval in kennis gestel.

Die verkeersbeamptes, ’n man en ’n vrou van onderskeidelik 32 en 45 jaar oud, is gevolglik in ’n gemerkte BMW van die provinsiale verkeersdepartement voorgekeer. Die twee is deur die polisie in Welkom en Bloemfontein se onderskeie honde-eenhede deursoek en die kontant is in hul besit gevind.

Die twee verkeersbeamptes is op die plek in hegtenis geneem en sal nou na verwagting Maandag in die Bultfontein-landdroshof op aanklagte van korrupsie verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Wonderlik want Bultfontein se Verkeersbeamptes is al vir jare lank ‘n probleem

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.