‘Verkeersbeamptes’ kaap glo koeriertrok

Argieffoto: memyselfaneye (Pixabay)

Die Oos-Kaapse polisie is op soek na vier mans wat hulle vroeër vandag glo as verkeersbeamptes voorgedoen het en na bewering ʼn koeriervragmotor op die N2 buite Thornhill gekaap het.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het omstreeks 07:00 gebeur. Volgens die 35-jarige bestuurder van die vragmotor was hy en sy assistent van George na Port Elizabeth onderweg toe hulle deur verkeersbeamptes langs die snelweg voorgekeer is. Die beamptes, wat glo in volle uniform geklee was, het hulle opdrag gegee om langs die pad af te trek.

“Die bestuurder sê die ‘beamptes’ het hom gevra vir sy bestuurderslisensie en dit het voorgekom asof hulle net ʼn roetine-nagaan van die vragmotor wil doen. Die volgende oomblik het een van die ‘verkeersbeamptes’ ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en die bestuurder en sy assistent gedwing om uit die vragmotor te klim,” het Nkohli gesê.

Die vragmotorbestuurder beweer hy en sy assistent is daarna in die “verkeersbeamptes” se Ford Ikon geboender en daar is met hulle na ʼn beboste gebied naby Motherwell gery. Daar is hulle glo met kabelbinders vasgebind voordat die kapers op die vlug geslaan het.

Hulle beweer die voertuig het die kentekens van die provinsiale verkeersdienste op gehad.

“Die slagoffers het na die naaste pad gestap waar ʼn verbygaande motoris hulle ʼn saamrygeleentheid na die Ikamvelihle-polisiestasie gegee het. Kort daarna is die koeriervragmotor verlate op die Rocklands-pad gevind met die agterdeur oop en ʼn paar bokse daarin,” sê Nkohli.

“Dit is in dié stadium nie duidelik wat uit die vragmotor gesteel is nie. Die twee slagoffers se selfone en beursies is wel gesteel.”

Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om kol. Willie Mayi by 082 697 5914 of Stop Misdaad 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Willie ·

Dalk is hulle Verkeersbeamptes? Die goed is so korrup en skelm, wie sal weet?

Drieks ·

Maklik;;;, bel Rhamaposa en Malema. Dit is wat hulle politiek vir SA gebring het..

Marius ·

Willie, ek is ook ‘n Verkeersbeampte. En ongelukkig sal Maroela Media nie plaas wat ek graag vir jou en die ander “goed” wil sê nie. Lees deur die lyne indien jy iets tussen die ore het.

Hanna Hoekom ·

Hulle was heel moontlik verkeersbeamptes. En as hulle nie was nie, wil mens weet WAAR kry hulle die volledige uniforms? Dan kom mens maar net weer tot die gevolgtrekking dat verkeersbeamptes betrokke is: direk of indirek!

Johan H. ·

Drieks,dis waat die politikuste is die hoof stokers van rasisme,veral zuma en sy clan,mbv bbbeee

Spietkop ·

Marius, ongelukkig is dit deesdae aan die orde van die dag, nie alle Polisie is korrup nie, nie all Metro Polisie is korrup nie, nie alle verkeers beamptes is korrup nie, maar ongelukkig is die meerderheid. Ek dink wel jy weet dit tog?

Hennie ·

Die enigste oplossing is neem n foto van die beampte wat jou aftrek jy het genoeg tyd om dit te doen

thelsa ·

Hennie het jy al probeer om ‘n foto van ‘n verkeers- of polisiebeampte te neem? Moenie waag nie. . . that’s when the fight started.

marius ·

Spietkop, ek stem volkome met jou kommentaar, die verskil is, Willie veralgemeen. Soos Alida, ek kan haar optrede nie verkwalik en ook nie goedkeur nie. Hoe weet die motoris vir wie hy/sy in hierdie misdaad gedrewe land van ons kan stop, ek self gebruik die land se paaie met my familie en die vraag is, “hoe gemaak indien ek in so ‘n situasie beland?”. Ek benader elke motoris asof dit my laaste keer sal wees. ‘n Motoris het by my nie ‘n spesifieke velkleur, geslag, kultuur of geloof nie en ek hanteer die motoris soos hy/sy behandel wil word. Ek besef ook dat elke motoris moontlik ‘n persoonlike probleem het, hetsy dit iemand is wat so pas moord gepleeg het , ‘n bank beroof het, deur ‘n egskeiding gaan of sy/haar besigheid staar bankrotskap in die gesig. Dan sit ons handjie vol, wat graag die paaie ‘n veilige plek vir ons almal wil maak, met probleme soos; van regeringsvlak word daar absoluut niks gedoen om op te tree teen die wetteloosheid op die paaie nie, die korrupte verkeersbeamptes ingesluit. Die howe/justiese neem nie padveiligheid ernstig op nie, buiten sake wat voor ‘n hofdatum teruggetrek word, word ‘n hele hofrol summier teruggetrek. Verkeersoortredings is mos “petty”. Behoorlike opleiding vir die wetstoepassers bestaan nie. Dan, die korrupte motoris, solank daar motoriste is wat geld aanbied en die korrupte wetstoepasser verryk, is jou kans baie beter om ‘n familielid in ‘n motorbotsing te verloor as om die lotto te wen. Ensv, ensv, ensv…..

Sarel ·

Wil net graag dit byvoeg, indien jy al ooit n beamte omgekoop het of hom emosioneel afgepers het met n onwaar hartseer verhaaltjie en so vry gekom het moet ons nie ons monde teen hulle oopmaak nie. Ons is dan niks anders as korup nie en is die oorsaak van korupsie.
Ek praat van ons as die gewone publiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.