Verkeersbeamptes skuldig wat omkoopgeld ontvang

Argieffoto (Foto: memyselfaneye, Pixabay)

Twee verkeersbeamptes van Tzaneen in Limpopo is Dinsdag in die plaaslike landdroshof skuldig bevind op aanklagte van korrupsie nadat hulle omkoopgeld van motoriste ontvang het.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê die Valke, die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het in Desember 2017 ’n operasie uitgevoer wat spesifiek daarop gemik was om korrupte aktiwiteite deur verkeersbeamptes hok te slaan.

Mabogo Tshifhelimbilu (43) en Nhlamulo Shivambu (34) en 11 ander verkeersbeamptes is gedurende dié operasie in hegtenis geneem nadat hulle na bewering omkoopgeld van motoriste ontvang het wat die Padverkeerswet oortree het. Dit het veral motoriste betrek wat die spoedgrens verontagsaam het.

Die omkoopgeld het enigiets tussen R100 en R2 000 gewissel.

Volgens Maluleke is al die verkeersbeamptes destyds op verskillende datums op borgtog vrygelaat; vyf van die verkeersbeamptes is reeds in ’n hof skuldig bevind aan korrupsie.

Tshifhelimbilu en Shivambu sal nou in aanhouding bly totdat hulle na verwagting op 25 Augustus gevonnis sal word.

Een van hul medebeskuldigdes, Clifford Lubisi, sal op 31 Augustus hoor wat sy vonnis is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Genis ·

Ry bietjie rond in Pretoria en Johannesburg, julle sal omtrent al die Metro toesluit…

Astrain ·

Jip, kom vanaf Tzaneen, hulle moet bietjie die lisensie afdeling gaan ondersoek. Daar word duisende rande elke dag betaal om lisensies te koop. En nie van gister af nie. Die hele munispailteit van Tzaneen is onbevoeg of korrup!

Niklaas ·

Is daar iewers in SA van hierdie beamptes wat nie sal swig voor hierdie versoeking nie? Moontlik, maar dit sal ‘n redelike soektog wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.