Verkeersbeamptes vas vir beweerde omkopery

Drie verkeersbeamptes in Mpumalanga is vir beweerde omkopery aangekeer. (Foto: RTMC)

Drie verkeersbeamptes van Mpumalanga is in hegtenis geneem vir beweerde korrupsie en omkopery.

Die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) se teenkorrupsie-eenheid in samewerking met die Valke het Maandagoggend op die twee toegeslaan toe hulle vir werk by die eMalahleni-munisipaliteit [in Witbank] aangemeld het.

Simon Zwane, woordvoerder van die RTMC, het gesê die beamptes, onderskeidelik 59, 53 en 38 jaar oud, het glo omkoopgeld van motoriste aanvaar pleks daarvan om hulle van verkeersoortredings aan te kla.

Die drie verskyn na verwagting later vandag in die hof.

Intussen is meer as 3 000 motoriste reeds sedert die begin van die maand vir verskeie verkeersoortredings in hegtenis geneem.

Die meeste van die verdagtes – altesaam 1 328 mense, oftewel 43% – is aangekeer omdat hulle glo onder die invloed van drank bestuur het. Nog 496 mense is aangekeer vir spoedoortredings.

Volgens Zwane is die meeste vermeende dronkbestuurders in Gauteng en Limpopo aangekeer, waar onderskeidelik 372 en 342 mense in hegtenis geneem is. Die nasionale verkeerspolisie het altesaam 352 motoriste in verskillende provinsies aangekeer.

Die meeste inhegtenisnemings vir spoedoortredings was in die Vrystaat waar 323 motoriste aangekeer is. Die hoogste snelheid wat opgeteken is, was op die N1 naby Ventersburg waar ʼn motoris betrap is wat 242 km/h in ʼn 120 km/h-sone gejaag het.

Die algemeenste oortredings tot dusver was mense wat sonder rybewyse bestuur het, vals dokumente gehad het, roekeloos en nalatig gery het, of die voorwaardes van bedryfspermitte vir openbare vervoer oortree het.

Wetstoepassingsowerhede verskuif nou hul fokus na woonbuurte om wetteloosheid te stuit en botsings met voetgangers te verhoed.

Zwane het gesê wetstoepassing sal ook voor Nuwejaarsdag verskerp word. Beamptes berei ook voor vir verhoogde verkeersvolumes teen die einde van die vakansie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.