Verkeersbeamptes vas wat glo omkoopgeld vra

Argieffoto

Twee verkeersbeamptes is in hegtenis geneem nadat hulle glo omkoopgeld van R5 000 van ʼn vragmotorbestuurder geëis én die voertuig vir ʼn ongespesifiseerde rede geskut het.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), het gesê die twee beamptes het glo verlede Donderdag die vragmotorbestuur op die R101 voorgekeer en die geld geëis. Reëlings is getref vir die betaling van die beamptes by die verkeerskantoor in Makapanstad.

Die voorval is by die nasionale verkeers-teenkorrupsie-eenheid aangemeld en ʼn lokval is in samewerking met die Valke vir die beamptes gestel.

“Die verdagtes is in hegtenis geneem kort nadat hulle die geld ontvang het en is by die Makapanstad-polisiestasie aangehou. Hulle verskyn na verwagting Maandag in die Temba-landdroshof,” het Zwane gesê.

Intussen is twee administratiewe klerke verbonde aan die Lekwa-lisensiëringsowerheid in Standerton, Mpumalanga, afgedank ná ʼn interne tugverhoor waartydens hulle skuldig bevind is aan oneerlikheid en bedrog.

Sandy Freddah Manana en Ilody Mildred Townsend is afgedank omdat hulle inligting op die eNatis-stelsel onregmatig verander het. Hulle het ʼn voertuigeienaar se besonderhede na dié van ʼn kamma-handelaar verander om die betaling van lisensiegeld te omseil.

Volgens Zwane is die staat ʼn geraamde R4 miljoen aan inkomste weens dié transaksies kwyt.

“Die bedrog en korrupsie by die Lekwa-lisensiedepartement het die staat vermoedelik reeds meer as R50 miljoen in onbetaalde geld en boetes gekos,” het hy gesê.

Die twee word ook strafregtelik vervolg. Hulle is deel van ʼn groep van agt amptenare wat in Augustus verlede jaar by die kantoor in hegtenis geneem is. Hulle verskyn weer in Desember in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dawn ·

Daar is so baie pad ongelukke, want hulle koop hulle bestuurslisensies. Dit is skrikwekkend. Met my eie oe gesien en ook by watloo, bronkhortspruit, etwatwa. Se hulle…soek jy jou drivers? Betaal my R2500 tot R2800. En dis die ouens agter die toonbanke. Alles net bedrog. En wie suffer? Ons kinders want hulle leer hard…kos jou n arm en n been met bestuurskole. Kom hulle by die toets gronde…vra hulle…soek jy hom? Betaal dan. Ons weier. En ons hande is af gekap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.