Verkeersbeamptes vrygespreek ná hulle boetes verlaag

Argieffoto: Departement van verkeersveiligheid

Argieffoto: Departement van verkeersveiligheid

Twee verkeersbeamptes van Lydenburg wat motoriste se verkeersboetes verlaag het, is op bedrogaanklagte vrygespreek, het Beeld Maandag berig.

Landdros Andries Lamprecht het gesê daar is ʼn algemene persepsie dat verkeersbeamptes van die Thaba Chweu-munisipaliteit in Lydenburg boetes oplê om ʼn inkomste vir die munisipaliteit te verseker, maar dat die geld nie gebruik word om paaie veiliger te maak nie.

“Die inkomste word nie gebruik om die talle slaggate op ons paaie te herstel nie,” het Lamprecht in die Lydenburg-streekhof gesê. Hy het gesê dit is duidelik dat talle munisipaliteite nie weet hoe om die inkomste wat van verkeersboetes gegenereer word, behoorlik aan te wend nie.

Lamprecht het die twee verkeersbeamptes, Jacob Papena Phala en Jabulani Andrew Mthombothi, vrygespreek op aanklag van bedrog. Phala, adjunkverkeershoof, en Mthombothi, ʼn superintendent, het verkeersboetes verlaag nadat hulle vertoë van motoriste af ontvang het. Hulle het dit sonder magtiging van die direkteur van openbare vervolging gedoen.

Die twee beamptes is aangekla nadat die munisipaliteit se inkomste met meer as R220 000 verminder het. Die hof het gehoor dat albei mans onder die indruk was dat dit van hulle verwag word om vertoë van die publiek aan te hoor.

Lamprecht het gesê nie een van die mans het persoonlik gebaat by die verlaging van die verkeersboetes nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Estelle ·

Sjoe wens sulke verkeersbeamptes wil my aftrek as ek ‘n oortreding begaan! Gewoonlik is hulle uiters arrogant!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.