Verkeersman glo deur besopene omgery

Die verkeersbeampte het aangedui dat die motoris van die pad af moet trek toe hy getref is. (Foto: Verskaf)

ʼn Verkeersbeampte verbonde aan die Johannesburg Metropolisie (JMPD) is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hy Sondag deur ʼn motoris omgery is.

Die beampte, Zwidfhela Daniel Singo, het op dié betrokke dag vir motoriste onder die spoorwegbrug in Mzimhlophe, Orlando, gewys om af te trek toe hy getref is.

Volgens Xolani Fihla, woordvoerder van die JMPD, was die bestuurder glo onder die invloed van alkohol en het van die toneel af probeer vlug nadat Singo getref is.

“Die voorlopige ondersoek dui daarop dat Singo vir ʼn wit Hyundai H100, wat glo die spoedgrens oorskry het, aangedui het om van die pad af te trek,” sê Fihla.

“Die bestuurder het egter versuim om te stop en Singo getref.”

Die bestuurder het toe op die vlug geslaan, maar Singo se kollegas het hom agternagesit. Terwyl die bestuurder gevlug het, was hy egter in nóg ʼn ongeluk met ʼn ander motor betrokke. Hy het ook van hierdie ongelukstoneel probeer vlug.

“Die JMPD-beamptes kon egter daarin slaag om die bestuurder voor te keer,” sê hy.

“ʼn Blaastoets is op die bestuurder gedoen en dit het gewys dat sy bloedalkoholvlak 0,73 mg per 1 000 ml was. Die wettige limiet is 0,24 mg per 1 000 ml.”

Die motoris het glo onder die invloed bestuur. (Foto: Verskaf)

Die 55-jarige bestuurder is in hegtenis geneem en aangekla van roekelose en nalatige bestuur, bestuur onder die invloed en versuim om by ʼn ongelukstoneel stil te hou.

Hy is na die Orlando-polisiestasie geneem waar die saak verder ondersoek word.

Nooddienste is tydens die jaagtog en inhegtenisneming ontbied om Singo by te staan.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911, sê by paramedici se aankoms op die toneel was die beampte in ʼn ernstige toestand wat vinnig versleg het. Singo het ernstige beserings aan sy kop en rug opgedoen.

“Die pasiënt is op die toneel gestabiliseer en per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem,” sê Herbst. Singo is tans in ʼn stabiele toestand.

Angie Mokasi, waarnemende polisiehoof van die JMPD, sê dit is uiters hartseer en ontstellend dat motoriste nie net hul eie lewens in gevaar stel nie, maar ook die lewens van ander mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek hoop dit sal van die metro polisie wat ‘n paar rand vat om die ander pad te kyk se gewete so pla dat hulle die pad wette sal polisieer en die paaie veiliger maak vir almal.

Stofdonkie ·

Dis baie snaaks dat die bestuurder dit kon regkry om die spoedgrens te oorskry met ‘n H100, daardie goed is maar stadig

CHRISTINE ·

Die massa begin optree soos die ANC wat soos die Taxi’s is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.