Verkeersnagmerrie in Kaap toe vragmotor knipmes

Die verkeersnagmerrie op die N1 net voor Plattekloofweg in Kaapstad waar ʼn vragmotor vroegoggend geknipmes en ’n ongeluk veroorsaak het. (Foto: Twitter / ww.traffic.searchsa.co.za)

Motoriste het Vrydag ʼn erge verkeersnagmerrie op die N1 net voor Plattekloofweg in Kaapstad ervaar toe ʼn vragmotor vroegoggend geknipmes en ’n ongeluk veroorsaak het. Altesaam 13 voertuie was in dié ongeluk betrokke en die pad was laat Vrydagoggend steeds gesluit.

Kevin Jacobs, woordvoerder vir verkeersdienste in Kaapstad, het 11:00 gesê die N1 by die Mike Pienaar-afrit is vir inkomende verkeer gesluit.

“Motoriste word aangemoedig om versigtig te ry en alternatiewe roetes te gebruik.”

Verkeer word nou om die ongelukstoneel na die Plattekloof-afrit herlei en motoriste word versoek om Frans Conradie- en Voortrekkerweg te gebruik.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder vir ER24, is geen ernstige beserings of sterftes aangemeld nie.

“Verskeie mense het op die ongelukstoneel rondgeloop.

“Paramedici het die pasiënte geëvalueer en gevind dat een persoon ligte beserings opgedoen het. Dié persoon is vir behandeling na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.”

Nooddienste is terselfdertyd na ʼn ongeluk op die N2 vir uitgaande verkeer tussen Robert Sobukwe- en Airport Approachweg ontbied. Die twee linkerbane was vroeër gesluit, maar is intussen weer oopgestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Gelukkig het Koeberg nie geblaas want daar is net twee maniere om jouself weg te kry van die wolke, en dit is die N1 en N2.

Vexed ·

Ja ek kan amper nie glo dat Koeberg nie op presies die oomblik geblaas het nie…

Andre ·

By ons word verkeersnagmerries geskep wanneer die mense ongelukkig voel.

VaalDonkie ·

Gelukkig die enigste verkeer wat ek vanoggend hier in die Kaap gehad het oppad werk toe, was my kind se fietsie wat net so in die gang gelos was. Het my seker twee sekondes langer gevat tot by my kantoor as gewoonlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.