Verkeerspolisie betrap kapers op heter daad

‘n Warpen wat gekonfiskeer is (Foto: Verskaf)

Vier gewapende rowers het Maandagoggend ʼn voertuig in Kaapstad probeer kaap, maar hulle planne is gefnuik toe verkeersbeamptes hulle op heter daad betrap het.

Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van Kaapstad se verkeersdienste, sê die beamptes het die oggend net ná 09:00 brandstof by die Engen-vulstasie, op die hoek van Wettonpad en Rosmeadlaan in Kaapstad, ingegooi, toe hulle iemand by die straat af hoor gil het. Die gille het glo van die Wettonpad-Rosmeadlaan-aansluiting gekom.

Bezuidenhout sê die beamptes het in die rigting van die gille beweeg om ondersoek in te stel. Daar het hulle die vier gewapende rowers betrap wat ʼn BMW-sedan probeer kaap het.

“Die beamptes het hulle voertuig se sirene en ligte aangeskakel. Die verdagtes het hulle gesien en in ʼn Volkswagen Polo-voertuig ingespring en probeer vlug. Die bestuurder het teen ʼn ander voertuig vasgery toe hy met hulle probeer wegjaag het,” vertel Bezuidenhout.

Bezuidenhout sê die beamptes het daarin geslaag om een van die rowers in hegtenis te neem. Die ander drie het te voet gevlug.

“Die bestuurder van die Volkswagen Polo het beweer hy is ʼn slagoffer van die kapingspoging. Ná verdere ondersoek is bevind dat hy saam met die rowers as medepligtige gewerk het,” vertel Bezuidenhout.

Die bestuurder is ook in hegtenis geneem. Hy en die ander rower is tans in aanhouding by die Wynberg-polisiestasie in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sakkie ·

As ek so na die meeste oorgewig beamptes kyk, verstaan ek waarom die drie te voet weggekom het.

christo ·

Uitstekende werk Stad Kaapstad se verkeersbeamptes. Ander stede se beamptes sal nie eers probeer het om arrestasies te maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.