Verkeersreëlaar buite gevaar ná bysteke

Gert Venter in die hospitaal. Foto: Verskaf

Gert Venter in die hospitaal. Foto: Verskaf

Gert Venter, die 68-jarige OUTsurance-verkeersreëlaar van Centurion, wat Dinsdagmiddag nagenoeg 1 000 keer gesteek is nadat ʼn swerm bye op hom toegesak het, se lewe is buite gevaar.

“Hy is nog erg geswel en dubbel sy grootte geswel, maar is buite gevaar,” het Gert se vrou, Annette, Woensdag vanuit die 1 Militêre Hospitaal aan Maroela Media gesê. “Hy sukkel nog om asem te haal, en het ook nog baie pyn, maar hy begin weer praat en wil net met alle geweld terugkeer na sy werk. Maar ek gaan dit nie nou toelaat nie. Hy moet eers by die huis kom en volkome herstel.”

Annette het gesê daar is nog honderde angels in haar man se lyf en dat sy gestel self die angels moet verwerp met die behandeling wat hy ontvang. “Ons het dus nog geen idee hoe lank hy in die hospitaal behandel gaan word nie.”

Annette het namens haar en die familie almal bedank wat hulle die afgelope week bygestaan het. “Die ondersteuning van die gemeenskap is oorweldigend. Ons waardeer dit opreg; elke oproep en elke boodskappie. Dit was vir my ʼn groot skok want hy was Dinsdagaand kritiek, maar die Here was in beheer. O ja, sê ook asseblief vir almal wat gehelp het om my man se lewe te red, ek sê baie dankie,” het sy bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig dat omstanders Dinsdagmiddag inderhaas ʼn plan moes beraam om Gert se lewe te red nadat ʼn swerm bye vanuit ʼn stormwaterpyp op hom toegesak het. Lees meer hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.