Verkiesing 2019: Partye moet opskud om te registreer

Durban-stadsaal was ʼn stempunt tydens kieserregistrasie op 27 Januarie 2019 (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency/ANA)

Suid-Afrikaanse politieke partye het tot Woensdag kans om aan die OVK-vereistes te voldoen om vir die verkiesing te registreer.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Dinsdag gesê Suid-Afrikaners sal Woensdag ná 17:00 weet watter politieke partye aan die verkiesing op 8 Mei gaan deelneem.

“Slegs geregistreerde politieke partye wat teen 17:00 op 13 Maart 2019 hul deposito’s betaal en kandidaatlyste ingedien het, sal toegelaat word om aan die verkiesing deel te neem. Altesaam 22 politieke partye het Dinsdag teen 09:00 reeds hul deposito’s betaal en 12 partye het reeds hul kandidaatlyste ingedien. Ongeveer 34 partye het aangedui dat hulle van voornemens is om aan die verkiesing deel te neem,” het die OVK gesê.

Partye moet ʼn deposito van R200 000 betaal om op die nasionale stembrief te verskyn en R45 000 om op die provinsiale stembrief te verskyn.

Die deposito word ten volle terugbetaal as die partye minstens een setel wen in elke wetgewer waar hulle deelneem. Die deposito’s van partye wat nie ʼn setel kan werf nie, word aan die land se inkomstediens oorbetaal.

Die OVK het tot 19 Maart om politieke partye in kennis te stel as daar enige nienakoming is wat betref kandidaatlyste en dit moet teen 25 Maart opgelos wees.

Die finale lys van partykandidate sal op 29 Maart 2019 gepubliseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Alida ·

Ek weet van n paar wat nog stoei met kostebevele wat betaal moet word.

Marietjie Blignaut ·

Hoop maar almal wat registreer behou hul depositos…..5 jaar gelede met Nasionale Verkiesing het die Inkomstediens breed geglimlag.

Mudguard ·

Die OVK is gereed vir die verkiesing. Alles is afgehandel. So ook die uitslag.

John ·

…. partye moet… uitskud… om te registreer… Dis ‘n klompie geld. As ‘n party nie ‘n setel wen nie, dan wen die ANC ‘n hele paar duisend en kan Eskom nog ‘n paar kanne diesel by die motorhawe op die hoek gaan koop vir lig in sy hoofkantoor vir die groot funksie van die aand.

Krummel ·

Ja, ons hou die spasie dop…. Gaan die BLF met hul rassistiese opmerkings daarmee wegkom? Ek glo nie daar sal ‘n probleem wees vir hulle nie!!!!

Vra net ·

Wanneer gaan die ANC en EFF en BLF met hulle verkiesings propaganda begin? Geen posters, advertensies op radio, TV, niks nie. Is hulle reeds bankrot?

Attie. ·

Ek stem vir ‘n klein party, daarna gebruik daardie party se leier my stem om ‘n koalisie te vorm met die party van sy keuse. op die manier tel my stem. My party ondersteun nie aborsie op aanvraag nie want dit is moord. Wat is jou party se beleid?

Oom Jaco ·

Amen Attie. Ek stem ook vir ń klein party wat 100% vir selfbeskikking staan, gelyke regte vir alle volke en GEEN moord en doodslag nie. ELKE stem tel, al is dit vir ń klein party!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.