Verkiesing 2019: Twee stemverskynsels in SA

theo-venter-nwu-2019-04-03

Theo Venter is ʼn politieke en beleidspesialis en dosent aan die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU). Foto: Mariné Lourens/Maroela Media.

Kiesers het Woensdag landswyd na stemlokale gestroom maar dit lyk reeds of die aantal kiesers wat wel hul kruisies getrek het in die sesde algemene verkiesing gemiddeld laer is as in die 2014-verkiesing.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het teen Donderdag omstreeks 12:00 reeds amper 5 miljoen stemme getel en op daardie stadium was die stempersentasie sowat 65%.

“Hoewel dit veel meer is as die aantal kiesers wat tydens 2016 se munisipale verkiesing opgedaag het, is dit aansienlik laer as in 2014. Die aantal kiesers wat by die stembus opgedaag het, het ook ʼn bepaalde invloed op vanjaar se uitslae,” het Theo Venter, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, gesê.

Verder is daar ook ʼn duidelike verskynsel wat besig is om in Suid-Afrika te ontwikkel waar daar ʼn veel laer stemtempo in die platteland is teenoor meer kiesers wat stem in dorpe en die stedelike gebiede.

Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) voorspel in hierdie stadium dat die ANC sowat 6% minder stemme in vanjaar se verkiesing sal kry. Dit is iets waarmee Venter tans saamstem. Dié party het in 2014 ʼn stempersentasie van 62% op hom verenig maar dit lyk nou of die ANC se steun na 56% kan afneem.

“Die DA behou sy steunvlak met meer as 20%, terwyl dit lyk of die EFF nie maklik deur die plafon van 10% se steun sal kan breek nie.”

Nog ʼn interessante waarneming wat Venter uitgewys het, is dat die VF Plus tot dusver sy steun verdubbel het.

“Die party het steun van die DA weggevat, maar die DA staan steeds sterk as die grootste opposisieparty omdat dié party weer swart kiesers bygekry het. Daar was beslis ʼn verskuiwing in die kiesersprofiel van die DA.”

Venter sê iets wat vir hom hierdie verskynsel tussen die DA en die VF Plus goed onderstreep is die feit dat die VF Plus reeds die kiesafdeling van Schweizer-Rencke gewen het, wat voorheen ʼn vesting van die DA was.

“Dit lyk of die IVP sukkel om sy ondersteuning uit te brei in hierdie verkiesing terwyl Cope se bodem heeltemal uitgeval het. Die BLF het ook nog nie daarin geslaag om enige noemenswaardige steun te kry nie.”

Bekommernisse oor die stemproses

Politieke partye het verskeie probleme by die OVK aangemeld, wat ʼn tekort aan stembriewe in die Wes-Kaap ingesluit het.

Die partye was ook bekommerd oor talle gerugte dat kiesers die ink wat hulle duime merk om aan te dui dat hulle reeds gestem het, maklik kon verwyder. Die bekommernis is dat kiesers so ʼn tweede keer kon stem. Volgens die partye het van die skandeerders in sommige gevalle nie by sekere stemlokale gewerk nie en van die OVK-beamptes het gebrekkige opleiding gehad.

Die OVK het egter die versekering gegee dat die bewering nie die integriteit van Woensdag se verkiesing nie in gedrag sal bring nie.

Venter meen dié bekommernisse is in hierdie stadium nog net “tegniese bekommernisse” wat nie ʼn direkte invloed op die finale uitslag van die verkiesing sal hê nie.

“Ek dink die gemiddelde laer stemtempo is ʼn goeie aanduiding dat daar nie soveel dubbele stemme van kiesers kon wees nie. Hierdie probleme was nie omvangryk genoeg nie.”

Hy sê die rooi vlae is egter iets waaraan die OVK sal moet aandag gee en dit sal beslis reggestel moet word voor die volgende munisipale verkiesing wat oor 18 maande plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ander Gert ·

Ons moet ook die partye wat die grondwet wil verander se persentasies steun bymekaar tel, en die partye wie daarteen gekant is se persentasies bymekaar tel.

As eersgenoemde groep partye bo 2/3 kom, spel dit moeilikheid uit, want al jou eiendom is moontlik in gedrang. As die tweede groep partye bo 1/3 kom, gaan dit interessant wees om te sien hoe die ANC, EFF, UDM en ander wat verwagtinge onder hul ondersteuners geskep het, dit aan hulle kiessers gaan verduidelik.

Gert ·

Schweitzer-Reneke? Is dit nie die dorp waar die DA teen die Afrikaanse juffrou betoog het nie? Hmm..

D B ·

Dis reg Gert. DA se “jeugleier” was een van die eerstes wat haar “gestenig” het. VF+ het haar gehelp.

D B ·

Welgedaan S R, as die res van ons ou volkie net wil wakker skrik. Hou so aan VF+!

Andreas ·

Kan die OVK dan nou so ‘n verkiesing wat vol soveel gate is “vry en regverdig” verklaar? Sal baie nader aan korrek nie wees om te sê dit was tot ‘n mate vry en regverdig, nou nie 100% nie, maar dat die OVK die verkiesing in hierdie lig gesien tevrede is om dit vry en regverdig te verklaar?

Ellisras ·

Ag nee. So Hlaudi gaan nie President word nie. Wat ‘n ramp. So ‘n briljante man. Ek hoop hy gaan slaap binnekort honger.

Genieve ·

Andries..wil ek ook weet soveel bedrog gewees mense wat 2keer gestem het n mens weet nie wa om te begin nie waar is dai boks met die stemme in wat vernietig is so n klug.

J F ·

Terloops, ‘n afname van 62% na 56% is ‘n afname van 6 persentasie PUNTE. Nie 6% nie. Anders kan jy sê dit is ‘n afname van 9.67%.

Attie. ·

Die stembriefmetode is vreeslik duur, ook is dit stadig en vol menslike foute. Ons leef in ‘n moderne tyd en indien ons elektronies kon stem dat was die uitslae al die aand van die stemming bekend. Ek versoek die VF+ om sy kiesers te help om n eie TV kanaal te kry. Ek sal duur betaal vir so iets want nou is ek al keelvol vir Kyknet. ‘n Kanaal met so n bietjie sport en nuus en sepies. Nie al die gemors wat in ons kele afgedruk word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.